Dieselfde God?

Die meeste Moslems, sowel as baie ander mense, insluitende baie Christene, is van mening dat Jahweh (Yahweh) die God van die Bybel en Allah die God van die Quran (Koran) (die Quran is Allah se openbaring deur sy profeet Mohammed) dieselfde God is. Is dit waar? Kan dit hoegenaamd bepaal word en met ‘n redelike mate van sekerheid gesê word dat dit wel die geval is? Albei hierdie wesens word bekend gestel (geopenbaar) deur hulle boeke bekend as ‘heilige boeke’, die Bybel en die Quran. Uit hierdie boeke kan hierdie wesens se morele eienskappe (attribute) bo alle twyfel bepaal word. Dit sal, indien dit identies is, afgelei kan word dat hulle dieselfde God is. In Allah se geval is daar ook nog die Hadis (Hadith), ‘n samestelling van die uitsprake, handelinge en gewoontes van Mohammed, opgeskryf deur mense wat naby hom geleef het en belangrike riglyne vir lewe wat deur Moslems gevolg moet word, wat verdere insigte in verband met Allah se morele attribute sal verskaf.

God van Liefde?

Volgens die Bybel is Jahweh, die God van die Christene ‘n God van liefde en is liefde sy belangrikste morele kenmerk (attribuut). Dit is nie ‘n sentimentele of emosionele liefde nie, maar ‘n gesindheid van welwillendheid, ‘n gesindheid wat Hy ook verwag van sy volgelinge. Is dit waar? Is die Bybel duidelik daaroor? Wat van Allah, is hy ook ‘n God van liefde? Is die Quran en die Hadith duidelik daaroor? Wat verwag hierdie twee wesens, volgens hulle heilige boeke, van hulle volgelinge wat betref liefde, vredeliewendheid, sonde, straf, verlossing, die lewe hierna, eerlikheid, oorlog, geweld, ens.? Verwag hulle van hulle volgelinge om in liefde (welwillend) teenoor ander mense op te tree, of dalk dat hulle moet veg ter wille van hulle en mense moet dwing om hulle te aanbid? Is albei ‘n God van liefde?

‘n Boek?

Reeds in 2001-2002, na die verwoesting van die World Trade Centre in Amerika deur sogenaamde Moslem ‘ekstremiste’ op 11 September 2001, is hierdie wesens se heilige boeke bestudeer uitsluitlik om te bepaal of hulle dieselfde morele attribute het. Iets wat onvermydelik is indien hulle wel dieselfde God is. In 2003 is die resultaat van die studie in Afrikaans as ‘n gedrukte boek uitgegee onder die titel Wie is God, Yahweh of Allah? ‘n Beperkte oplaag is gedruk. As gevolg van versoeke deur belangstellendes is dit hersien en word dit nou as ‘n E-boek in beide Afrikaans en Engels beskikbaar gestel. Dit is tans in volledige vorm slegs in PDF-formaat beskikbaar.

Om dit te lees?

Almal word genooi om hierdie boek te lees. Die skrywer vertrou dat die lees van hierdie boek vir elke leser van watter geloofsoortuiging ookal, wat dit met ‘n oop gemoed lees, tot groot geestelike voordeel kan wees. Dit kan gratis afgelaai en gelees word. Die skrywer behou egter die kopiereg. Indien dit nodig blyk te word mag die boek dalk later as gratis PDF formaat van die internet verwyder word en as E-boek of as gedrukte boek of beide, te koop aangebied word.

Motief?

Die motief vir hierdie webblad en die skryf van hierdie boek is liefde. Omgee liefde, welwillendheid, nie emosionele of sentimentele liefde nie. ‘n Ernstige (ware) Christen het nie ‘n keuse nie as om lief te wees vir alle mense van alle rasse, oortuigings en godsdienste. So ‘n liefde is ‘n begeerte dat dit met alle mense goed sal gaan en ‘n aanmoediging om alles moontlik te doen om dit te bereik. Wanneer ‘n persoon die enigste ware God, wat liefde is, ken en dien gaan dit ten minste geestelik goed met hom/haar. Met sulke mense gaan dit nie altyd in alle opsigte goed nie, want ons lewe in ‘n gebroke wêreld wat in die mag van die Bose is. Maar, as dit geestelik goed gaan met ‘n mens, belowe die enigste ware God dat “alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet.” Uiteraard dan ook diegene wie sy liefde hier op aarde uitleef.