Na die gewelddadige verwoesting van die Wêreld Handel Sentrum (World Trade Centre) geboue in New York, Amerika, op 11 September 2001 deur sogenaamde Moslem ekstremiste, hoor 'n mens in die media teenstrydige uitsprake oor die vredeliewende aard en karakter van Islam.
Daar word beweer dat Islam 'n vredeliewende godsdiens is en dat die deursnee Moslem vrede nastreef. Hierdie inligting word verkry van Westerse- en selfs Christen ‘kenners’ van Islam. Wanneer daar in die media met Moslem leiers hieroor gepraat word, dan gee hulle ook telkens die versekering dat Islam eintlik, in wese, vredeliewend is. Hulle veroordeel die terroriste dade en simpatiseer met die veronregtes. Dit klink goed en dit laat die gemiddelde nie-Moslem beter voel oor Islam.
'n Mens sou graag wou glo dat Islam 'n vredeliewende godsdiens is, want as dit nie is nie, is daar moeilikheid vir alle nie-Moslems. Daar is baie Moslems en die sogenaamde ekstremiste skroom nie om hulle lewens op te offer om hulle ‘vyand’ uit te wis nie. Hoe duisende, niksvermoedende, ongewapende burgerlikes, wat besig is met hulle gewone dagtaak, insluitende vrouens, hulle vyande kan wees, is vir die gemiddelde nie-Moslem glad nie duidelik nie.
Wanneer 'n mens egter sekere Moslems se vreugde oor hierdie terreurdade op TV sien en sien hoe sogenaamde vredeliewende Moslems regoor die wêreld, insluitende Suid-Afrika, reageer teenoor Amerika op grond van hul optrede teen die terroriste, sowel as teenoor die voorheen terroristiese staat, Afghanistan, dan wonder 'n mens hoe dit rym met hulle ‘vredeliewendheid’. Hulle betogings en plakkate is niks minder as dreigend nie. Daar word gedreig met 'n sogenaamde heilige oorlog, of Jihad teen Amerika. Ook in Suid-Afrika was daar aksies om mense te werf om Afghanistan te gaan help, nie net finansieel en met middele nie, maar ook as soldate.
Daar is uitsprake van ‘vredeliewende’ Moslems, soos die volgende: “As 'n Moslem aangeval word deur 'n nie-Moslem, word almal aangeval en dan moet almal help” (Moslem geestelike tydens onderhoud oor RSG). Die Suid-Afrikaanse Moslem Regsraad veroordeel Amerika as die aggressor vir sy aanvalle teen Afghanistan en sy terroriste. Die meerderheid van Moslems wat daaroor iets te sê het, stem met hierdie veroordelings saam. Dan is dit nie meer so seker of Islam wel 'n vredeliewende geloof is nie en ook nie wie almal hulle vyande is nie.
Vir die gemiddelde nie-Moslem is Islam 'n raaisel. Daarom bestaan daar in hierdie dae by die meeste mense onsekerheid oor hierdie sake. Selfs by ‘nominale’ Moslems, (mense wat nie op hoogte is van wat hulle heilige boeke leer nie) wie se geloof gebou is op wat hulle hoor in die Moskees (Moslem plekke van aanbidding), by hulle geestelike leiers, sowel as in hul gemeenskap, is daar onsekerheid. Indien daar nie onsekerheid is nie, is hierdie teenstrydige menings moeilik te verduidelik.
Vir die nie-Moslem kom die gemiddelde Moslem vreedsaam voor. Oor die algemeen word hulle beleef en ervaar as vriendelike en hulpvaardige mense. In Westerse lande is kontak tussen nie-Moslems en Moslems egter hoofsaaklik beperk tot 'n besigheidsituasie waar die nie-Moslem die klant is en die Moslem die besigheidsman of –vrou. Oor die algemeen word Moslems ervaar as 'n eksklusiewe groep, waar vriendskappe met nie-Moslems en werklike sinvolle sosiale interaksie baie min voorkom. Daarom is die Moslems en hulle godsdiens, Islam, vir die gemiddelde nie-Moslem 'n raaisel.
Dit gebeur dikwels dat Moslems betrokke is, of geïmpliseer word, by dade van geweld wat deur nie-Moslems as tereurdade beskou word. Uiterste voorbeelde daarvan is die gewelddadige verwoesting van die Wêreld Handel Sentrum (World Trade Centre) waarna reeds verwys is, en die motorbom ontploffing in Bali, Indonesië, op 12 Oktober 2002, waar groot getalle nie-Moslems die teikens was. Moslems se reaksie op hierdie dade is gewoonlik teenstrydig. Aan die een kant word dit veroordeel, maar aan die ander kant word dit ook goedgepraat. Uit die reaksie van Moslem leiers kry 'n mens die indruk dat hierdie dade nie deur hulle as terreur beskou word nie, maar eerder as regverdigbare oorlogsdade. 'n Mens kry verder die indruk uit uitsprake van leiers sowel as gewone Moslems dat hulle simpatie het met die mense wat hierdie ‘terreurdade’ pleeg.
Die nie-Moslem vind dit moeilik om te verstaan hoe duisende mense in vreedsame omstandighede, besig met hulle gewone dagtaak of vakansie, insluitende vrouens en kinders, die vyande van Islam kan wees, wat verdien om regmatiglik, as 'n daad van oorlog, doodgemaak te word. Dit rym nie met die reeds genoemde beeld van Moslems nie, en dit is verwarrend vir die nie-Moslem. Selfs Moslems verstaan dit nie altyd nie en vind dit dikwels moeilik om te verduidelik.
Aan die ander kant het Moslems ook soms probleme om sin te maak uit nie-Moslems se optrede, en in besonder ook met Westerlinge wat hoofsaaklik deur Moslems as Christene beskou word. In die naam van Christendom is daar ook Moslems doodgemaak tydens die Kruistogte (Crusades). Moslems in Westerse lande sien ook elke dag hoe mense wat bekend staan as Christene en wat daarop aanspraak maak dat Jesus in hulle plek die straf vir hulle sonde gedra het, hulle skuldig maak aan die gruwelikste sondes soos onder andere onsedelikheid, drankmisbruik, geweld, ensovoorts. Tereg maak hierdie dinge nie vir hulle sin nie, want hoe kan iemand aanhou sonde doen terwyl hy daarop aanspraak maak dat Jesus die prys betaal het vir sy sonde?
As Christen is die skrywer bewus daarvan dat die meerderheid mense wat voorgee dat hulle Christene is, en deur ander gelowe as Christene beskou word, nie eers self weet wat die ware en Bybelse betekenis van die woord ‘Christen’ is nie. Hierdie mense ken die God van die Bybel nie, en lewe glad nie in totale oorgawe aan Hom, soos wat dit 'n ware Christen betaam nie. Hierdie is nie 'n poging om verskonings te soek nie; dit is feite, en dit is goed dat Moslems daarvan kennis neem. In Aanhangsel B word 'n definisie gegee van wat 'n ware Christen is. Hier kan net gesê word dat hoe nader 'n mens aan die God van die Bybel leef, hoe meer lewe jy in oorgawe aan Hom en hoe meer liefdevol is jy, want die God van die Bybel is liefde. Dit sal uit die Bybel aangetoon word. Enigiemand wat dus geweld, haat en onsedelikheid bevorder kan nie 'n ware Christen wees nie al gee hy/sy voor om een te wees.
Die skrywer is daarvan bewus dat Islam die Bybel as verdraai en onbetroubaar beskou. Hy is egter ook daarvan bewus dat selfs Moslem geestelikes erken dat daar geen bewyse bestaan dat die Bybel verdraai is nie, en dat niemand enige geldige bewyse kan voorlê nie.
As gevolg van die onkunde en onsekerheid oor die vredeliewendheid van Islam, het die skrywer verskillende vertalings in Afrikaans en Engels van die Quran en ook vertalings in Engels van verskillende samestellings van die Hadis (Hadith) bekom, waar hy in hierdie heilige boeke van Islam gesoek het na antwoorde op vrae oor liefde, geweld, oorlog, sonde, vergifnis, straf, ens. Uitsprake oor hierdie sake deur die God van die Bybel word vergelyk met uitsprake hieroor deur Allah, die God van Islam, in die Quran. Hieruit behoort dit vir die leser duidelik te word of Jahweh, God van die Bybel en Allah, God van die Quran, dieselfde wese is, en indien nie, watter een waarlik God is.
Aangesien die skrywer nie Arabies magtig is nie moes hy hom verlaat op Afrikaanse en Engelse vertalings van hierdie boeke (Quran en Hadis). Daar is egter baie moeite gedoen om aanhalings korrek en binne die konteks te gebruik. Verwysings word gegee om die leser in staat te stel om die akkuraatheid en toepaslikheid van aanhalings te kontroleer.
Let asseblief daarop dat alle aanhalings uit Engelse bronne, vry vertaal is in Afrikaans. Daar is egter baie moeite gedoen om die betekenis getrou weer te gee.
