Ware Christene weet dat die God van die Bybel 'n God van liefde is. Die Christen wat dit nie aanvaar of glo nie, het nie 'n studie van die Bybel hieroor gemaak nie. Dit is ook te betwyfel of so iemand werklik 'n Christen is, aangesien liefde die kern en die wese van die Christelike godsdiens is.
Niemand wat 'n redelike kennis van die Bybel het kan ontken dat Jahweh, die God van die Bybel, 'n God van liefde is nie. In Johannes 3:16 staan daar:
“Want sò lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (beklemtoning bygevoeg)
Die woord 'wêreld' sluit alle mense in en sluit beslis nie sondaars uit nie. Jesus sê dan juis in Markus 2:17:
"Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering." Sien ook Mat. 9:12 en Luk. 5:31 in hierdie verband.
Jahweh het die sondaar lief en daarom stuur Hy vir Jesus, sodat daar vir hulle verlossing kan wees:
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timoteus 2:3,4)
Hierdie liefde van God en sy geduld met die sondige mens word ook verder bevestig in 2 Petrus 3:9:
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Jahweh se liefde vir die mens blyk ook duidelik uit Esegiël 18:23, Hy vra:
“Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?”
Jahweh het Sy skepsel, die mens, wat deur ongehoorsaamheid in die mag van sonde beland het, lief. Met eindelose geduld het Hy deur Abraham, Isak, Jakob en die volk Israel, sy verlossingsplan vir die mens geloods, sodat daar vir almal redding kon wees deur Jesus Christus. Geen mens het dit verdien nie. Hy (God) het ons eerste liefgehad. 1 Johannes 4:19:
“Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
Wat is die bewys dat Hy ons eerste liefgehad het? 1 Johannes 4:10:
“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.”
Dit word bevestig in Romeine 5:8:
“maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (beklemtoning bygevoeg)
God is liefde, volgens 1 Johannes 4:8 & 16:
“Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (beklemtoning bygevoeg)
“God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (beklemtoning bygevoeg)
Jahweh kan dus, met respek, nie enigiets doen wat liefdeloos is nie. Al sy dade is liefde, d.w.s. welwillend (‘benevolent’: dit is 'n disposisie om goed te wil, en te doen). Enige dade wat nie welwillend is nie, is nie van God nie, maar van Satan of van die mens. God se oordele is ook welwillend teenoor diegene wat sy liefde finaal verwerp. Hy moet optree, op grond van sy regverdigheid, en tot voordeel van sy totale skepping, en van diegene wat sy verlossingswerk in Christus aanvaar en sodoende met Hom versoen is. Dikwels tree Hy ook op om te voorkom dat sulke mense nog 'n groter oordeel oor hulleself bring. Pyn en lyding op aarde is nie noodwendig die straf van God nie. Dit is meestal die gevolg van sonde: 'n mens se eie sonde, maar ook andere se sonde.
God is liefde en die wese van sy wet is dus ook liefde. Jy moet God liefhê bo alles en jou naaste soos jouself. Die opdrag is duidelik in Levitikus 19:18:
"maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
En die Here Jesus verduidelik dit so volgens Mattheus 22:37-39:
"En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
Sien ook Deuteronomium 6:5; Markus 12:30-31 en Lukas 10:27 in hierdie verband.
Dit beteken 'n mens moet altyd welwillend optree teenoor God en jou naaste (jou naaste is elke mens met wie jy in aanraking kom, insluitend jou vyande). As 'n mens welwillend optree teenoor iemand, dan doen jy alles wat jy kan wat tot sy voordeel is en niks wat tot sy nadeel is nie. Dit is logies dat as alle mense altyd so optree sal niemand te na gekom word nie en God sal altyd geëer word. Dit is duidelik dat die motief vir sò 'n wet liefde is. As almal so lewe, word die wet vervul en gaan dit goed met almal.
Hierdie liefde is nie 'n gevoel of 'n emosie nie. Dit is wel 'n keuse tot welwillendheid teenoor iemand ten spyte van jou gevoel vir hom. 'n Mens moet dus welwillend optree teenoor almal, ook diegene van wie jy nie hou nie, en dit sluit jou vyand in. Dit is dan ook die opdrag van God in sy Woord:
“Julle moet jul vyande liefhê;” Mattheus 5:44; Lukas 6:27
En in Spreuke 25:21:
“As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink.”
Romeine 12:14 se opdrag is:
“seën dié wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie:”
1 Petrus 3:9 stem saam:
“Vergeld geen kwaad met kwaad of skelwoorde met skelwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.”
Ons weet egter almal dat alle ‘Christene’ nie altyd so optree nie. Inteendeel, die ervaring is dat daar maar min Christene is wat so optree. Daar is egter verskillende definisies vir Christenskap, maar 'n Bybelse definisie vir 'n Christen is: Iemand wat, op grond van die verlossing deur Jesus Christus, totaal aan God oorgegee is; wat homself verloën en Christus volg, elke dag bereid is om aan homself te sterf (Lukas 9:23); wat dood is vir die wêreld en die sonde, maar lewe vir Christus (Romeine 6:2-14); wat as kind van God deur die Gees van God gelei word (Romeine 8:14); en in wie se hart die liefde van God uitgestort is (Romeine 5:5). (Sien ook Aanhangsel B in hierdie verband.)
Dit is belangrik om daarop te let dat die mens in hierdie proses niks het om op te roem nie en dat die verlossing volkome God se werk is. Selfs die vermoë om te glo en te kies is 'n gawe van God (Efesiërs 2:8). Sodoende word die oorgawe aan God in Jesus vir die mens moontlik gemaak (Johannes 15:5). Geen goeie werke kan 'n mens red nie, maar as jou oorgawe (redding) nie 'n heilige (toegewyde) lewe en goeie werke tot gevolg het nie, dan kan die oorgawe hoegenaamd nie eg wees nie.
Daar is wel enkele tekste in die Bybel waar dit met die eerste oogopslag kan lyk of God iemand haat byvoorbeeld Maleagi 1:2,3 waar God sê: “Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat.” Die woord ‘gehaat’ word egter gebruik in die sin van: ‘ek ag die een hoër as die ander’ of ‘ek het die een liewer as die ander’ en die rede daarvoor is voor-die-hand-liggend. God is alwetend en het altyd geweet dat Esau sy vyand sou wees. ‘Vyand’ is ook 'n woord wat uit die oorspronklike Hebreeuse woord, wat hier met ’haat’ vertaal is, afgelei kan word. Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, is die uitdrukking ook in Ou Testamentiese tyd gebruik wanneer 'n persoon byvoorbeeld sy een vrou of kind liewer gehad het as die ander. Dan is daar gesê: ‘die een het ek lief en die ander een haat ek’.
'n Ander voorbeeld is waar Jesus in Lukas 14:26 sê dat iemand wat nie sy vader, moeder, vrou, kinders, broers en susters haat nie, nie sy dissipel kan wees nie. Die woord wat hier met ‘haat’ vertaal is kan onmoontlik nie liefdeloosheid beteken nie, want dit is dieselfde Jesus wat oor en oor geleer het dat 'n mens jou naaste, selfs jou vyand, moet liefhê soos jouself. 'n Mens moet God egter liewer hê as jouself. Taalkenners is van mening dat die woord wat met ‘haat’ vertaal is ook kan beteken ‘minag’, ‘minder ag’, of ‘minder liefhê’.
Dit is duidelik dat die God van die Bybel alle mense liefhet, nie omdat mense die liefde verdien nie, maar omdat Hy liefde is. Dit is Sy wese. Wanneer God se liefde volhardend verwerp word, word sy toorn egter wel op gewek.
