Die liefde van Jahweh sowel as die liefde van Allah ten opsigte van alle mense is reeds bespreek. Die verhouding wat Jahweh en Allah onderskeidelik verwag van hulle volgelinge teenoor ander mense behoort reeds hieruit duidelik te wees, en daar is reeds aangetoon dat Allah van Moslems verwag om nie-Moslems te haat, maar daar is ook duidelike verdere opdragte in die verskillende boeke oor die gesindhede wat Jahweh en Allah van mense verwag.
Die Bybel
Soos reeds aangetoon is, is Jahweh, die God van die Bybel, liefde en daarom is dit vir Hom belangrik dat 'n mens in vrede lewe met almal, en dat 'n mens jou naaste liefhet, insluitende die vreemdeling:
Romeine 12:18: “...sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”
Hebreërs 12:14: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
1 Korintiërs 13 gaan oor die uitnemendheid van die liefde. Dit is 'n opdrag om lief te hê. Dit sluit aan by Jahweh se wet van liefde wat reeds bespreek is, en
dit sluit af met die volgende woorde:
"En nou bly geloof, hoop, liefde - hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde." (vers 13)
Die God van die Bybel is ernstig oor liefde teenoor ander mense, en dit sluit vreemdelinge in. Dit is mense van ander kulture wat anders leef en dink as wat jy dink. Dit is nog 'n bewys dat wanneer die God van die Bybel volke laat uitwis, dan is dit omdat daar geen ander uitweg is nie. Hy het hulle lief en sou hulle eerder wou spaar as daar nog enige hoop op redding vir enigeen van hulle sou wees. Die God van die Bybel sê in Esegiel 18:32:
“Want ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, ..., bekeer julle dan en lewe.”
Dit moet duidelik verstaan word dat toe God mense laat uitwis het in die Ou Testament, dit nie was omdat hulle Hom nie gedien het nie, maar omdat hulle 'n bedreiging was vir sy plan van verlossing vir die mens deur die Here Jesus Christus. Daarom verwag Jahweh van 'n mens om jou naaste, insluitende die vreemdeling lief te hê soos jouself, soos die volgende drie verse uit die Bybel duidelik aantoon.
Levitikus 19:18: “...jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Levitikus 19:34: “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself,”
Deuteronomium 10:19: “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê,”
Waaraan word 'n ware Christen uitgeken? Die Here Jesus gee self die antwoord in Johannes 13:35 wanneer Hy sê:
"Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."
Indien u dus ‘Christene’ sien wat mekaar haat, onder mekaar twis en mekaar doodmaak, weet dan dat hulle nie ware Christene is nie.
Quran
Indien Allah mense haat wat hom nie volg nie (nie-Moslems), en van sy volgelinge (Moslems) verwag om hulle namens hom te haat, soos reeds aangetoon is, is dit moeilik om te verstaan hoe Islam ‘vrede’ kan beteken, en hoe Allah en die God van die Bybel dieselfde wese kan wees.
Afgesien van die haat wat Allah verwag van Moslems teenoor nie-Moslems, gee hy duidelike instruksies oor wat sy volgelinge (Moslems) se verhouding met nie-Moslems of ‘ongelowiges’ behoort te wees:
Sura 3:27: “Laat die gelowiges nie die ongelowiges as vriende verkies nie.”
Sura 5:51: “O julle gelowiges, neem nie die vyandiggesinde Jode en Christene as vriende nie. Hulle is mekaar se vriende. En die van julle wat hulle tot vriende neem, is inderdaad een met hulle. Voorwaar, Allah lei nie die onregverdige volk nie.”
In hulle boekie, The Facts on Islam, (bl. 8) haal John Ankerberg en John Weldon hierdie Sura aan uit 'n ander Engelse vertaling. Dit lui as volg:
“O, ware gelowiges, neem nie die Jode en Christene as julle vriende nie. Hulle kan nie vertrou word nie. Hulle is besmette vuilgoed (defiled-filth).”
Hoe vreedsaam is die volgende uittreksel uit die Quran, wat daarop aandring dat ongelowiges (nie-Moslems) onwrikbaar en hard behandel moet word deur Moslems? Sura 48:29 (Afrikaans): “Muchammad is die Boodskapper van Allah, en diegene saam met hom is onwrikbaar teen die ongelowiges gekant, en sagmoedig onder mekaar.” In Engels: “Muhammad is the Apostle of God (Allah); and those who are with him are strong against unbelievers, (but) compassionate amongst each other.” (Ali, 2000:471) en: “Mohammed is the messenger of Allah. And those with him are hard against the disbelievers and merciful among themselves.” Pickthall (1997:372).
Allah is ernstig oor vyandskap teenoor nie-Moslems. Die volgende is nie net 'n aanbeveling nie, maar 'n opdrag wat strafbaar is by oortreding:
Sura 4:138,139: “Vertel aan die huigelaars dat daar op hulle 'n smartlike straf wag – hulle wat die ongelowiges in plaas van die gelowiges as vriende neem.”
Dit is duidelik dat die ‘huigelaars’ in hierdie gedeelte diégene is wat ‘ongelowiges’ (nie-Moslems) as vriende neem.
Sura 18:102: “Dink hulle wat nie glo nie, dat hulle My dienaars as vriende buiten My kan neem? Voorwaar, Ons het die hel as 'n onthaal vir die ongelowiges voorberei.”
Indien daar 'n ‘smartlike straf’ wag vir Moslems wat nie-Moslems as vriende het, en hulle in die Quran huigelaars genoem word, verduidelik dit waarom daar nie werklik sosiale interaksie tussen Moslems en nie-Moslems is nie. Dit word nie toegelaat nie. 'n Moslem met nie-Moslem vriende kan dus nie 'n goeie Moslem wees nie, want hy verontagsaam Allah se opdragte.
Hoe rym dit met vredeliewendheid?
