Christene aanbid Jahweh (Yahweh), die God van die Bybel. Moslems aanbid Allah, die God van die Koran (Quran). Moslems is van mening dat die God van die Bybel en die God van die Quran dieselfde God is. Baie mense, insluitende baie Christene is ook van mening dat die Christendom en Islam dieselfde God aanbid, en dat hierdie God bloot onder verskillende name bekend is aan die verskillende godsdienste. Volgens die Bybel is Jahweh, die God van die Christene, ‘n God van liefde en is liefde Sy belangrikste morele kenmerk (attribuut). Hierdie liefde is nie ‘n sentimentele of emosionele liefde nie, maar ‘n gesindheid van welwillendheid. Indien hierdie twee wesens dus dieselfde God is, beteken dit dat Allah die God van Islam ook ‘n God van liefde is en dat dit duidelik waarneembaar sal wees wanneer sy openbaring, die Quran (Koran) bestudeer word. Baie mense sê, en Moslems maak daarop aanspraak, dat Islam wel ‘n vredeliewende godsdiens is. As dit so is sal dit wonderlik wees, en dit sal dan ook duidelik wees uit Islam se boeke, die Quran en ook die Hadith (Hadis) dat die God van Islam ‘n God van liefde is en dat hy liefde en vredeliewende gedrag van sy volgelinge verwag.
Hierdie studie wil bepaal of hierdie twee wesens wel dieselfde persoon is en in die proses sal hulle onderskeie openbarings (die Bybel, die Quran en die Hadith) ondersoek word om te bepaal, eerstens of Jahweh die God van die Bybel wel ‘n God van liefde is soos hierbo genoem, of Hy Sy volgelinge aanmoedig om ook in liefde op te tree, of Hy van hulle verwag om ander met geweld te dwing om Hom te aanbid, of Hy van hulle verwag om vir Hom te veg. Tweedens sal daar ook in die Quran (Allah se openbaring deur die profeet Mohammed), sowel as die Hadith (Hadis) gedelf word ten einde te bepaal of Allah ‘n God van liefde is, of hy sy volgelinge aanmoedig om ook in liefde teenoor alle mense op te tree, of hy van sy volgelinge verwag om ander te dwing om hom te dien, hoe hy van sy volgelinge verwag om ander te dwing om hom te dien, watter sort strawwe Allah voorskryf vir mense wat hom nie dien nie en wat hy van sy profeet Mohammed verwag vir sover dit hierdie sake betref.
Dit sal dus ook nodig wees om uit die Bybel te bepaal wat Yahweh, die God van die Bybel, van mense verwag wat betref liefde, vredeliewendheid, sonde, straf, verlossing, die lewe hierna, eerlikheid, oorlog, geweld, ens. Daar sal dan ook uit die Quran (Koran) bepaal word wat Allah, die God van Islam, verwag van mense, veral van Moslems en sy profeet, Mohammed, wat betref liefde teenoor ander, vredeliewendheid, sonde, straf, verlossing, die lewe hierna, eerlikheid, oorlog, geweld, ens. Hierdie eieskappe wat hieruit duidelik sal word sal dan vergelyk word ten einde bo alle twyfel te bepaal of hulle wel dieselfde God is. Indien hulle dieselfde God is sal hulle morele attribute wat duidelik uit hulle boeke bepaal kan word, ongetwyfeld identies wees. Indien hulle morele attribute nie dieselfde is nie kan bo alle twyfel aanvaar dat hulle nie dieselfde God is nie, en dit behoort dan ook duidelik te wees watter een wel die ware God is.
