Ooreenkomste in Islam

Om met iemand 'n ooreenkoms (verbond) te hê of om 'n belofte te maak, hetsy onder eed of nie, en dit dan nie na te kom nie is liefdelose gedrag, want dit benadeel die ander party. Daarom is dit, volgens die Christelike definisie, ongetwyfeld sonde.

Ons weet dat baie mense, Christene ingesluit, ooreenkomste en beloftes verbreek. Moslems het egter Allah se toestemming om onder sekere omstandighede beloftes en ooreenkomste te verbreek. In die Quran word daar so 'n uitsondering gemaak, ons vind dit in Sura 9:1-5:

1) “'n Verklaring van vrystelling van Allah en Sy Boodskapper teenoor die afgodedienaars met wie julle 'n verdrag gesluit het.

2) Gaan daarom vier maande lank in die land rond en weet dat julle nie van Allah kan ontsnap nie en dat Allah skande oor die ongelowiges sal bring.

3) En dit is 'n aankondiging van Allah en Sy Boodskapper aan almal op die dag van die groot bedevaart, dat Allah, saam met Sy Boodskapper, vry is van verantwoordelikheid teenoor afgodedienaars. As julle daarom berou toon, sal dit vir julle beter wees; maar as julle julle afwend, weet dan dat julle Allah nie kan ontwyk nie. En verkondig 'n smartlike straf aan die ongelowiges – (beklemtoning bygevoeg)

4) Met die uitsondering van daardie afgodedienaars met wie julle 'n verdrag gesluit het en wat julle in niks in die steek gelaat het nie; kom dan die ooreenkoms met hulle tot aan die einde van die tydperk na. Waarlik, Allah het die pligsgetroues lief.

5) En wanneer die heilige maande verby is, bring dan die afgodedienaars om waar julle hulle ook mag vind, en neem hulle gevange, beleër hulle en loer op hulle uit elke hinderlaag. Maar as hulle berou toon en die gebed onderhou en die zakaat betaal, laat hulle weg dan onverhinderd wees.

In vers 3 staan daar in Yusuf Ali se Engelse vertaling:

...Dat Allah en sy Apostel verpligtinge in verband met ooreenkomste wat met heidene (nie-Moslems) aangegaan is, ontbind.” (vry vertaal)

Allah gee hulle dus die reg om verdrae of ooreenkomste met nie-Moslems te verbreek. In sekere gevalle moet hulle egter vier maande wag voor hulle dit mag verbreek (sien vers 2 en 5 hierbo). Hulle teenstanders mag egter nie 'n ‘verbond skend’ nie.

Sura 8:55-56: “Waarlik, die veragtelikste beeste in die oë van Allah is hulle wat nie glo nie omdat hulle nie wil nie. Hulle met wie u 'n verbond sluit en wat telkens daarna die verbond skend, en hulle plig nie na kom nie.

Die Hadis ondersteun die Quran hierin. In Al-Hadis (Karim, 1998:23:133(Vol.2):397), wat handel oor die verbreking van 'n ooreenkoms, skryf die samesteller in sy voetnota as verduideliking:

Verdrae en ooreenkomste wat in ooreenstemming met die Quran en Hadis is, word beveel om nagekom te word. Islam moedig nie laksheid in die nakoming van verdrae aan nie aangesien dit plegtige beloftes is, maar verdrae en ooreenkomste wat onwettig is (volgens Quran en Hadis) is nie nodig om na te kom nie.” (beklemtoning bygevoeg).

Die probleem is dat ‘n nie-Moslem nie 'n manier het om te weet of 'n ooreenkoms teenstrydig is met die Quran of Hadis, en of dit dus onwettig is nie. Dit kom daarop neer dat die Moslem die reg het om met 'n nie-Moslem 'n ‘onwettige’ ooreenkoms aan te gaan wat hy dan later, wanneer dit hom pas, kan verbreek.

Ede in Islam

In aansluiting hierby is daar ook duidelike uitsprake in die Quran in verband met 'n eed of 'n plegtige onderneming of gelofte (vow).

Sura 2:225: “Allah sal julle nie verantwoordelik hou vir jul ydele ede nie,

Sura 5:89: “Allah sal julle nie verantwoordelik hou vir jul ydele ede nie, maar wel vir ede wat julle in alle erns aflê. Die boetedoening daarvoor is die gee van voedsel aan tien arm mense, met dieselfde soort voedsel waarmee julle jul huisgesinne voed; of om hulle te klee; of die bevryding van 'n nek ('n slaaf). Maar wie dit nie kan doen nie, sal drie dae lank moet vas.” (beklemtoning bygevoeg)

'n Mens wonder wat sou die verskil wees tussen ‘ydele ede’ en ‘ede in alle erns’ afgelê. 'n Mens sou verwag dat alle ede in alle erns afgelê word. Daar is egter selfs uitkomkans uit die ede wat in alle erns afgelê is, as jy geld het of drie dae kan vas kan jy daaruit ook kom. Wat 'n gerieflike verskoning om jou plig te versuim, met toestemming van jou God.

Sura 66:2: “Allah het inderdaad die versoening (ontbinding) van julle ede vir julle goedgekeur;

Die Engelse vertaling, van dieselfde Sura, deur Yusuf Ali stel dit duideliker as die Afrikaans:

God (Allah) has already ordained for you (o men) the dissolution of your oaths (in some cases).

Dit is glad nie duidelik uit die Quran watter gevalle uitgesonder word nie en wat die maatstaf is waarvolgens hierdie uitsondering toegepas word nie. Die Hadis maak ook voorsiening vir die verbreking van ede, maar weereens is daar nie duidelike riglyne vir wanneer dit toelaatbaar is en wanneer nie:

Al-Hadis (Karim, 1998:24;8(Vol.2):475): “die Apostel van Allah het gesê: Wie ookal 'n eed aflê en daarna iets anders sien wat beter is, laat hom boete doen vir sy eed en dan kan hy die ander ding doen.

So maklik soos dit. Geen geldige rede is nodig nie, want jy doen die boete en jy het geen verdere verpligting nie. Wat behels hierdie boete?

Al-Hadis (Karim, 1998:24;24(Vol.2):479: “die Apostel van Allah het gesê: Die boetedoening vir 'n gelofte is dieselfde as vir 'n eed.

Die aanhaling hierbo uit Sura 5:89 gee die boetedoening (expiation) vir 'n eed: voedsel vir tien arm mense ens. of drie dae vas.

Beloftes in Islam

Wat van 'n gewone belofte? Die nakoming van ooreenkomste en ede is in wese dieselfde as om 'n belofte te hou. Dit word egter afsonderlik behandel in die Hadis. Die samesteller van die Al-Hadis, Karim (1998(Vol.1):470) sê in verband daarmee:

Alle (Moslem) geleerdes is egter eenstemmig dat in onwettige dinge kan 'n belofte wettiglik verbreek word sonder om skuldig te wees aan sonde.

Die argument hierbo in verband met onwettige verdrae en ooreenkomste is ook hier van toepassing. Die vraag is egter: "weet 'n Moslem nie wanneer hy 'n onwettige belofte maak nie, of 'n belofte maak oor 'n onwettige ding nie?" Indien hy wel weet, het hy dan toestemming om wetende so 'n ongeldige belofte te maak?

Uit die volgende uitspraak van die profeet Mohammed is dit duidelik dat hy nie eers omgee of die belofte onwettig is nie, as jy nie meer lus is daarvoor nie is dit ook maar reg:

Al-Hadis (Karim, 1998:4:213(Vol.1):472): “die Heilige Profeet het gesê: Wanneer 'n man 'n belofte maak aan sy broer en die bedoeling het om dit na te kom, maar dit nie nakom nie, en ook nie op die afgesproke tyd opdaag nie, daar is geen sonde teen hom nie.

Om 'n belofte te maak en dit nie na te kom nie is gelykstaande aan 'n leuen. Daarom laat hierdie dinge 'n mens wonder hoe belangrik dit in Islam is om die waarheid te praat. Oor die algemeen word van die Moslem verwag om die waarheid te praat, maar soos in die geval van ooreenkomste, ede en beloftes is daar tog ook uitsonderings.

Al-Hadis (Karim, 1998:4:201(Vol.1):465): “sy het gesê: Ek het nie gehoor dat hy (Sy het bedoel die Heilige Profeet) toestemming gee dat mense onwaarhede kan praat nie behalwe in drie dinge – oorlog, om vrede tussen manne te herstel en in die gesprek van 'n man met sy vrou en in die gesprek van 'n vrou met haar man.

Al-Hadis (Karim, 1998:4:208(Vol.1):467): “die Boodskapper van Allah het gesê: Onwaarheid is nie wettig nie behalwe in drie dinge: onwaarheid van 'n man teenoor sy vrou om haar gelukkig te maak, onwaarheid in oorlog, en onwaarheid ten einde vrede tussen manne te bewerkstellig.

Soos vroeër aangetoon, verwag Allah dat sy boodskapper, Mohammed, gehoorsaam moet word. Wanneer Mohammed dus toestemming gee dat in sekere omstandighede leuens vertel kan word, is dit so goed of Allah gee self die toestemming. Jihad, wat 'n 'heilige oorlog' is, word waarskynlik hier by ingesluit, wat beteken dat die redes waar leuens toegelaat word redelik wyd is.

In die lig hiervan kan 'n mens nie help om te wonder watter nut en sin enige vredesonderhandelinge met Moslems het nie. Daar is altyd vir die Moslem 'n ‘wettige’ uitkomkans uit 'n ooreenkoms, onderneming of belofte. As dit volgens die Quran nie onwettige ooreenkomste was nie, kan die feit dat dit 'n oorlog situasie is die Moslem vrystel van sy verpligting. Anders kan hy vier maande wag, tien mense kos gee, of drie dae lank vas. Uitkomkans sal daar altyd wees.

'n Mens kry Israel jammer, wat tans poog om met die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van Yasser Arafat te onderhandel vir vrede. Mag God hulle van sulke ooreenkomste bewaar. Afgesien daarvan dat so 'n ooreenkoms totaal nutteloos is, wonder 'n mens hoe gevaarlik dit kan wees vir Israel.

Ons het reeds gesien 'n Moslem het geen keuse nie. Hy moet ter wille van Jihad gewelddadig wees as hy getrou aan Allah se opdragte wil wees. Hy mag egter daaroor lieg, met toestemming van sy God. Hy kan byvoorbeeld voorgee om vredeliewend te wees, en dat Islam 'n vredeliewende godsdiens is, al weet hy dit is nie waar nie. Oorlog is een van die drie uitsonderings in verband waarmee 'n Moslem mag lieg, en hier gaan dit oor (heilige) oorlog, waarmee 'n Moslem altyd besig is solank daar nie-Moslems is.

In die Bybel

Vir die God van die Bybel is die verbreking van 'n verbond (ooreenkoms), 'n eed of 'n gelofte (vow) sonder uitsondering sonde, want dit is bedrieglik en bedrieglike optrede is niks anders as liefdelose optrede nie. In die Bybel is daar talle voorbeelde van verbonde, nie alleen tussen God en mense nie, maar ook tussen mense. Geen voorsiening word gemaak om 'n verbond sondeloos te verbreek nie. Al wanneer een party vrygestel word van sy verpligting ten opsigte van 'n verbond is wanneer die ander party die verbond reeds verbreek het.

Niemand word toegelaat om 'n vals eed af te lê nie: Levitikus 19:12 en Mattheus 5: 33 sê:

Jy mag nie vals sweer nie

Jahweh sê verder vir Sy volk, Israel, in Sagaria 8:16-17:

"Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here." (NAV)

So belangrik is waarheid en vrede vir Jahweh dat Hy in 'n volgende vers (19) vir Sy volk belowe dat hulle vasdae vrolike feestye van blydskap en vreugde sal wees op die volgende voorwaarde:

"maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê." (OAV)

Die God van die Bybel is die God van waarheid en in Hom is daar geen valsheid nie. Jesus is volgens Johannes 16:6:

...die weg en die waarheid en die lewe;

In die waarheid is daar geen plek vir die leuen nie en daarom verbied die Bybel dan ook leuens (onwaarhede). Levitikus 19:11:

Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.” Spreuke 19:9 sê: “'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om.

Kolossense 3:9 sê:

Lieg nie vir mekaar nie,

Vir die sondaars, insluitende leuenaars, is daar die volgende waarskuwing in die Bybel in Openbaring 21:8:

Maar ...moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel

Hierdie geld vir almal wat hulle nie tot God bekeer het nie, wat nie vir Jesus as verlosser aangeneem het nie en wat volhard in hulle sonde.