Volgens die Bybel

Die Bybel maak dit baie duidelik wat sonde is. God het die Tien Gebooie as riglyn gegee. Jesus het gekom en dit saamgevat in die liefdesgebod (waarna reeds verwys is). Jy moet God bò alles liefhê en jou naaste soos jouself. As 'n mens dit uitleef, vervul jy die wet. Sonde is oortreding van die wet of wetteloosheid volgens 1 Johannes 3:4:

"Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid."

As die wet liefde is dan is wetteloosheid 'n oortreding van die liefdesgebod. Sonde is dus, in ander woorde, liefdeloosheid of liefdelose gedrag. Enigiets wat 'n mens doen wat tot oneer van God is of wat tot nadeel van jou naaste is, is liefdeloosheid en dus sonde. Volgens die Bybel is die loon van die sonde die dood (ewige verwydering van God). ‘n Mens lees dit in Romeine 6:23:

"Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here." (hierdie dood is vervreemding van God)

God het die mens lief en wil hom van hierdie dood verlos. Vir hierdie rede stuur Hy Jesus om die prys vir ons sondes te betaal sodat diegene wat dit glo en aanvaar, vir ewig saam met Hom sal wees. Jesus verlos die mens egter nie net van die straf van sonde nie, maar ook van die sonde self, volgens Matteus 1:21:

"...en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos."

1 Johannes 3:5 bevestig hierdie feit ook:

"En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie."

Dit is ook so dat as jy aan Hom behoort en deur Hom van sonde verlos is, dan is sy liefde in jou hart uitgestort, volgens Romeine 5:5:

"...die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is"

As sy liefde in jou hart is dan is sy wet in jou hart en stel Hy jou in staat om dit te vervul. Hy maak dit met ander woorde vir die mens moontlik om welwillend en liefdevol op te tree.

God is egter regverdig, en daarom vergewe Hy sonde nie sonder meer nie. Numeri. 14:18 bevestig dit:

"‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie." (NAV).

Dit is die rede waarom Hy self in Christus die Offer voorsien het wat die straf moes dra vir die sondes van diegene wat dit glo en aanvaar, sodat hulle op grond van sy verdienste van die straf vrygestel kan word. God is regverdig en straf sonde nie twee keer nie. As iemand glo en aanvaar dat die Here Jesus die straf van sy sonde gedra het, dan word hy nie ook daarvoor gestraf nie. Die nadelige gevolge van sonde is nie God se straf vir sonde nie, dit is bloot die gevolge van sonde.

Volgens Islam se boeke

Die Quran gee nie 'n duidelike riglyn van wat sonde is nie. Verskillende oortredinge en sondes word eerder by die naam genoem en dan word uitsprake daaroor gemaak. Die Al-Hadis van Karim (1998(Vol.3):121,124) het 'n omvattende beskrywing van verskillende sondes en deugde onder die opskrif Sins and Virtues (Sondes en Deugde). Dit sê uitdruklik dat goeie dade slegte dade (sondes) kan uitkanselleer:

In baie plekke in die Quran en die Hadis, word dit verklaar dat sondes vergewe word as bepaalde dade van deug gedoen word op 'n bepaalde manier."

Een van daardie plekke waarna hy verwys is Sura 23: 102-103 waar dit in verband met die oordeel sê:

"Diegene dan wie se goeie dade swaar weeg, sal suksesvol wees. En diegene wie se goeie dade lig sal weeg, dit is hulle wat hulle siele verloor het; in die hel sal hulle vertoef."

Dit is natuurlik iets wat nie eers in 'n wêreldse regstelsel kan gebeur nie, bloot oor die onregverdigheid daarvan. Stel jou voor: 'n moordenaar probeer die regter oortuig dat hy, na die moord wat hy gepleeg het, weer in soortgelyke omstandighede was en toe nie 'n moord gepleeg het nie, of dat hy by 'n later geleentheid iemand wat in soortgelyke omstandighede was as wat sy slagoffer was, se lewe gered het, of dat hy gereeld gebid het, of dat hy vir 'n sekere tyd gevas het. Wat is die kans dat die regter hom sal vryspreek of sy straf kwytskeld? Hoe regverdig sal dit wees indien hy wel vrygespreek word? Slegs 'n sin vir regverdigheid, waarmee elke mens toegerus is, en geen besondere regskennis nie, is nodig om die vraag te beantwoord. Dit geld vir enige misdaad. Hoeveel te meer sal 'n regverdige God toesien dat geregtigheid geskied?

In Islam kan dit egter gebeur. 'n Blote rituele gebed soos die salaat waarna vroeër verwys is, kan vir die bidder vergifnis van sy sonde bewerk. Volgens Al-Hadis (Karim, 1998:34:466w(Vol.3):168) het die Profeet Mohammed by navraag die volgende antwoord gegee:

"'n Moslem dienskneg sê gebede op en hoop om Allah daardeur te plesier en dan val sy sondes van hom af net soos die blare van hierdie boom afval."

Al-Bukhari (Khan, 1987: 504(Vol.1):300) bevestig dat sonde vergewe word deur gebede op te sê. Hier verwys die Profeet iemand wat sonde gedoen het en daaroor navraag gedoen het na Sura 11:114 in die Quran waar daar geskryf is:

"Onderhou die gebed aan die twee uiterstes van die dag en gedurende die eerste ure van die aand. Waarlik, goeie dade verdryf die slegtes."

'n Mens kan die onsekerheid van 'n Moslem verstaan. Hoe moet hy weet wanneer hy genoeg gebid, gevas of ander goeie dade gedoen het om vir sy sonde te vergoed? Erger nog: hy weet nie eers presies wanneer hy sonde gedoen het en hoe ernstig dit is nie, juis omdat daar nie 'n duidelike definisie van sonde in die Quran is nie.

Karim, in sy Al-Hadis (Karim, 1998(Vol.3):128) gee 'n lys van 53 sondes met die byskrif: “Die volgende word deur juriste aangewys as groot sondes:” Voorbeelde daarvan is: nr. 1: “Om deelgenote aan Allah toe te skryf (To set up a partner with Allah).”, nr.12: “Rebellie sonder geldige rede”, nr. 20: “Om vriendskap te hê met ongelowiges tot nadeel van Islam.”, nr. 49: “Om 'n Moslem aan te spreek as ‘Kafir’” (Kafir beteken ongelowige in Arabies), nr. 52: “Om met 'n vrou wat menstrueer saam te woon (cohabit)”. Liefdeloosheid per sé kom egter nie ter sprake nie.

Sommige van hierdie sondes kan blykbaar glad nie vergewe word nie, terwyl dit onseker is wat die vereistes vir vergifnis van die verskillende sondes is. Dit is dus onduidelik watter goeie dade nodig is om elke sonde uit te kanselleer.

Hoewel die Quran by verskeie geleenthede sê dat Allah sonde vergewe indien daarvoor gevra word, is daar ander dele wat daarop dui dat Allah nie maklik vergewe nie. Dit is ook nie seker wat die gronde is waarop Allah die sondes vergewe nie, daarom is dit 'n baie onseker saak of daar te alle tye vergifnis is.

Die eksklusiewe aard van Allah se liefde blyk ook uit die feit dat, volgens die Quran, 'n mens die ewige lewe verwerf deur 'n Moslem te wees en goed te doen. Redding is egter ook nie seker nie, want Allah vergewe wie hy wil, volgens:

Sura 2:82: “En hulle wat glo (Moslems) en goeie dade doen, sal die hemel beërwe;” en verder:

Sura 4:48: “Waarlik, Allah vergewe niemand wat iets of iemand aan Hom gelyk stel nie, maar hy sal alle ander dinge vergewe van wie Hy wil.”(beklemtoning bygevoeg)

Beteken dit dat 'n Christen, of iemand uit 'n ander godsdiens, wat na die Moslem geloof oorgaan, nie deur Allah vergewe word nie, want hy het tog die God wat hy aanbid het gelyk of selfs hoër as Allah gestel? Watter sin sal sy godsdiensverandering na Islam dan hê as daar vir hom geen vergifnis is nie?

Daar is slegs een seker manier om in die Moslem-hemel, genoem die paradys, te kom en dit is deur vir Allah te veg (Jihad of Heilige Oorlog). Bewys daarvan word gelees in: Al-Hadis (Karim, 1998:23:39(Vol.2):356):

Veg op die weg van Allah. Wie ookal veg op die weg van Allah, selfs al is dit vir die tydperk tussen twee melktye van 'n kameel, vir hom is die Paradys seker.

Daar is egter 'n uitsondering: as 'n mens skuld het, gaan jy steeds nie die paradys beërwe nie, al neem jy deel aan Jihad, aldus Al-Hadis (Karim, 1998:23:20(Vol.2):350):

“die Heilige Profeet het gesê: Om te veg op die weg van Allah is versoening vir enigiets behalwe vir skuld.”

Ander sondes is egter nie 'n probleem nie. Volgens die Hadis kan selfs 'n sondige lewe goedgemaak word deur betrokkenheid by Jihad. In Al-Hadis (Karim, 1998:23:324w(Vol.2):369) was Mohammed by geleentheid teenwoordig by die begrafnis-gebed van 'n man, toe die volgende gesprek plaasgevind het:

O Boodskapper van Allah, moenie vir hom bid nie, want hy was 'n sondige (oortredende) persoon. Die Heilige Profeet kyk toe na die mense en vra: ‘Het enige van julle hom ooit gesien in enige aksie vir Islam?’ ‘Ja’ antwoord 'n man; ‘O Boodskapper van Allah, hy was 'n wag vir een nag ter wille van Allah.’ Die Boodskapper van Allah lei toe 'n gebed oor hom, en terwyl hy grond oor hom strooi sê hy: ‘Jou metgeselle het gedink dat jy in die hel is, maar ek getuig dat jy een van die inwoners van Paradys is.

Hierdie gedeelte sê egter nie of Mohammed navraag gedoen het oor die man se moontlike skuld nie. Dit bly dus 'n onseker saak oor wie vergewe word en wie kwalifiseer vir die paradys. Die volgende aanhalings uit die Quran bring nie veel meer duidelikheid nie:

Sura 4:17: “Waarlik, berou teenoor Allah is slegs vir hulle wat in onwetendheid gesondig het en spoedig daarna tot Allah terugkeer. Dit is tot hulle dat Allah Homself met barmhartigheid wend.

Sura 57:21: “Wedywer dan om die vergifnis van julle Here en vir die paradys, waarvan die breedte gelyk is aan die breedte tussen die hemel en die aarde, voorberei vir diegene wat in Allah en Sy boodskappers glo. Dit is die genade van Allah; Hy gee dit aan wie Hy wil.” (beklemtoning bygevoeg)

Berou klink na 'n aanvaarbare rede vir vergifnis, maar is dit voldoende sonder straf? Sal 'n mens wat iets gesteel het, iemand aangerand het of 'n moord gepleeg het, van sy straf kwytgeskeld word deur 'n wêreldse hof, bloot omdat hy berou het, al is dit hoe opreg? Verseker nie, want dit sal onregverdig wees. Hoe regverdig is 'n God dan wat net vergewe wie hy wil, sonder enige geldige rede? 'n Mens kan sê: ‘Ja, maar God kan doen wat Hy wil’, en dit is waar. Hy kan doen wat Hy wil, maar as dit wat Hy doen nie regverdig is nie, en daar geen sprake van liefde is nie, dan is hy nie Jahweh, die God van die Bybel nie.

Allah straf egter wel (nie die mense wat hy vergewe nie), hier op aarde sowel as in die hiernamaals en hierdie straf is hewig. Allah waarsku nie-Moslems in die Quran in Sura 3:55 as volg:

Aangaande die ongelowiges: Ek sal hulle straf met die ergste kastyding in hierdie wêreld en in die Hiernamaals, en hulle sal geen helpers hê nie.” (beklemtoning bygevoeg)

Daar sal in hierdie studie hoofsaaklik aandag gegee word aan strawwe wat hier op aarde uitgedeel word. Dit behoort by te dra tot die antwoord op die vraag of Islam vredeliewend is. Die volgende aanhaling uit Al-Bukhari se Hadis gee nie net 'n aanduiding van wat die straf is vir onvoldoende respek aan Allah nie, maar ook wat die lot van ongelowiges (nie-Moslems) behoort te wees volgens Islam: (Khan, 1987:173(Vol.2):100):

Die Profeet het te Mecca, ‘Surat-an-Najm’ voorgedra ('n soort gebed waar die voorkop vuil moet wees as bewys dat laag voor Allah gebuig is) terwyl hy laag gebuig het saam met ander wat ook daar was, behalwe 'n ou man wat 'n handvol klippies en grond geneem het, dit teen sy voorkop gedruk het, en gesê het, ‘dit is goed genoeg vir my’. Later het ek gesien hoe hy as 'n ongelowige doodgemaak word.

Afvalligheid is ook 'n baie ernstige oortreding in Islam en dit word swaar gestraf. Hoewel die Quran dit nie spesifiek voorskryf nie, wil dit voorkom of dit nie aan Allah self oorgelaat word om af te reken met afvalliges nie. Die doodstraf word hier op aarde toegepas in geval van afvalligheid van Islam. Sura 3:55 hierbo aangehaal kan egter voldoende rede wees, nie net vir die doodstraf van afvalliges nie maar vir alle nie-Moslems. As Allah sê:

Aangaande die ongelowiges: Ek sal hulle straf met die ergste kastyding in hierdie wêreld en in die Hiernamaals, en hulle sal geen helpers hê nie.

Dit beteken moeilikheid vir alle nie-Moslems en nie net vir Moslem afvalliges nie. Die samesteller van die Al-Hadis, (Karim, 1998 (Vol.2):523) sê die
volgende:

Dit blyk, ... , dat die juriste die doodstraf voorgeskryf het vir afvalliges in ooreenstemming met vers – 5:33 Q.

Dit verwys na Sura 5:33 (v. 36 in Yusuf Ali se Engelse vertaling) en dit lees as volg:

Die enigste straf vir hulle wat oorlog teen Allah en Sy boodskappers voer, en begeer om wanorde in die land te skep, is dat hulle doodgemaak moet word; of dat hulle gekruisig word; of dat hulle hande en voete, die linker van die een en die regter van die ander, afgekap moet word; of dat hulle uit die land verban moet word. Dit sal vir hulle 'n skande in hierdie wêreld wees, en in die hiernamaals sal hulle 'n smartlike straf ontvang.

Uit die Hadis se hantering van hierdie gedeelte kan 'n mens aflei dat afvalligheid van Islam en selfs weiering om Islam te aanvaar gelyk gestel word aan oorlog teen Allah, waarteen Islam homself moet verdedig. Dit is dan waarskynlik ook die rede waarom die Hadis geen twyfel laat oor wat met afvalliges gedoen moet word nie. Die Hadis se duidelike instruksies in die verband is as volg: Al-Hadis (Karim, 1998:25:74(Vol.2):524):

Akramah het gerapporteer dat daar afvalliges (heretics) voor Ali gebring is en dat hy hulle verbrand het. Ibn Abbas het dit gehoor en hy het gesê: ‘Indien ek daar was, sou ek hulle nie verbrand het nie, op grond van die volgende verbod van die Boodskapper van Allah’: ‘Moenie Allah se metode van straf op iemand toepas nie.’ ‘Ek sou hulle egter beslis doodgemaak het op grond van die Profeet se opdrag’: ‘Maak hom wat sy geloof verander dood.’

In hierdie geval was die doodmaak nie die probleem nie, maar die manier waarop dit gedoen is. Volgens die Profeet is verbranding Allah se manier en is die mens nie veronderstel om dit op dieselfde manier te doen nie. 'n Afvallige moet egter doodgemaak word. Al-Bukhari, (Khan, 1987:57(Vol.9):45), laat ook geen twyfel oor wat die straf vir afvalligheid is nie:

Allah se Boodskapper het gesê: ‘Wie ookal sy Islam geloof verander het, maak hom dan dood’” (‘Whoever changed his Islamic religion, then kill him’)

Om 'n afvallige dood te maak is 'n goeie daad wat deur Allah vergoed word volgens: Al-Hadis (Karim, 1998:25:75(Vol.2):524):

die Boodskapper van Allah het gesê: ‘...Hulle sal wegvlug van die geloof soos 'n pyl van 'n koker (hy het waarskynlik bedoel, boog). Waar julle hulle ookal raakloop, maak hulle dood, want daar sal beloning wees vir hulle moord op die Opstandingsdag vir die wat hulle doodgemaak het.’” (beklemtoning bygevoeg)

Al-Bukhari (Khan, 1987:64(Vol.9):50) bevestig dit:

So, waar julle hulle ookal vind, maak hulle dood, want wie hulle ookal doodmaak sal 'n beloning ontvang op die dag van Opstanding.

'n Groep van die ‘Ukl’ stam het Islam aangeneem, en na Mohammed gegaan in verband met 'n gesondheidsprobleem wat hulle gehad het. Die volgende het toe gebeur volgens Al-Hadis (Karim, 1998:25:77(Vol.2):524):

“Hy (Mohammed) het hulle opdrag gegee om die kamele vir die ‘Zakat’ (Moslems se verpligte liefdadigheidsoffer) te bring, en hulle urine en melk te drink. Hulle het dit gedoen en gesond geword. Daarna het hulle terug gedraai (van die Islam geloof), die wagters doodgemaak en die kamele gevat, hy (Mohammed) het agterna gestuur en hulle laat terugbring. Hy het hulle hande en voete laat afkap en hulle oë laat uitpluk. Daarna het hy nie toegelaat dat hulle mediese behandeling ontvang nie, totdat hulle dood was”

Hier moet toegegee word dat die straf waarskynlik nie net was vir afvalligheid nie, maar blykbaar ook vir die doodmaak van die wagters en die terugsteel van hulle kamele. Dit word egter in die Hadis behandel onder die opskrif Moord van rebelle en afvalliges (Murder of rebels and apostates).

Sahih Al-Bukhari se Hadis het ook 'n paar voorbeelde van wat die Profeet Mohammed met afvalliges gedoen het. Hou in gedagte dat die Profeet se tradisies 'n maatstaf is wat deur Moslems nagevolg behoort te word. Hy sluit sy weergawe van bogenoemde verhaal van die ‘Ukl’ stam as volg af: (Khan, 1987:796(Vol.8):521):

...die Profeet het opdrag gegee dat stukke yster rooi warm gemaak word, en dat hulle oë daarmee uitgebrand word, en dat hulle hande en voete afgekap word sonder om die bloeding te probeer stop. Hulle is toe by 'n plek gelaat wat genoem word Al-Harra, en wanneer hulle gevra het vir water om te drink is dit nie vir hulle gegee nie, totdat hulle dood was.

Die bedoeling was duidelik om hulle dood te maak. Dit was dus niks anders as 'n wrede metode om hulle dood te maak nie. Al-Bukhari (Khan,1987(Vol.8):520), maak die volgende opmerking voordat hy die bogenoemde en ander voorbeelde gee:

Die Profeet het nie die bloeding van die geamputeerde ledemate laat afbind of –brand, van die wat teen Allah en sy Boodskapper geveg het nie, en van die wat afvalliges van Islam was nie, totdat hulle dood was.

Die feit dat hulle mediese behandeling en water geweier is dui daarop dat die Profeet bedoel het om hulle dood te maak. Die vraag is of so 'n wrede metode nodig was. Sou hierdie mense nie voldoende straf vir hulle misdade in die Hiernamaals ontvang nie? Dit is egter in ooreenstemming met Allah se waarskuwing in Sura 3:55:

Aangaande die ongelowiges: Ek sal hulle straf met die ergste kastyding in hierdie wêreld en in die Hiernamaals, en hulle sal geen helpers hê nie.

Islam se heilige boeke beskryf self hierdie verhale in besonderhede sonder om enige aanduiding te gee dat dit verkeerd is. Daar is inteendeel 'n heldeverering vir Mohammed ten spyte van al hierdie wrede dinge wat hy gedoen het.

Nog 'n oortreding wat baie swaar gestraf word in Islam, in opdrag van die Quran, is diefstal. Die voorskrif in die Quran is:

Sura 5:38,39 (41,42 in sommige Engelse vertalings): “En wat die man of vrou betref wat aan diefstal gewoond geraak het, kap hulle hand af; 'n straf van Allah as voorbeeld. ...Maar hy wat na sy oortreding berou het en homself verbeter – na hom sal Allah Hom met barmhartigheid wend.

Daar word egter nie gesê of die persoon sy hand terugkry nie. Die opdrag is duidelik in die Quran. Die Hadis pas dit egter ietwat anders toe: Al-Hadis (Karim, 1998:25:351w(Vol. 2):560):

die Boodskapper van Allah het in verband met 'n dief gesê: As hy steel, kap sy hand af. As hy weer steel, kap sy voet af. As hy weer steel, kap sy (ander) hand af. As hy weer steel, kap sy (ander) voet af.

Die Bybel is baie duidelik oor wat sonde is, wat die straf daarvoor is en hoe om vergifnis daarvoor te kry. Daar is wel baie ‘Christene’ wat dit nie weet nie, omdat hulle nie ernstig genoeg is oor die Bybel nie. Die ware Christen kan weet dat hy die ewige lewe het, sien 1 Johannes 5:11-13:

En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.

Dit wil egter voorkom of dit in Islam 'n baie onsekere saak is, en dat 'n Moslem eers in die hiernamaals sal weet of sy goeie dade genoeg was om sy sondes te kanselleer, ten einde vir die paradys te kwalifiseer.