Volgens die Bybel is Jesus gebore as gevolg van die bonatuurlike bevrugting van Maria, sy moeder, deur die werking van die Heilige Gees van God. Dit was dus nie 'n gewone bevrugting deur die fisiese samekoms tussen man en vrou nie, maar wel 'n wonderwerk deur die krag, wil en inisiatief van God. Dit wat in haar liggaam ontstaan het, het gebeur omdat God dit bonatuurlik so beskik het. Dit kan gelees word in Lukas 1:30-35:

"30En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 31En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 33en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. 34Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? 35En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word." Sien ook Mattheus 1:18-25.

Volgens die skeppingsverhaal van Genesis 1 het God alles geskep deur slegs te sê: ‘laat dit daar wees’ en die dinge wat Hy beveel het om daar te wees het ontstaan. God het dus gespreek en Maria was bonatuurlik bevrug.

Die Quran se verhaal in verband met Jesus se geboorte stem ooreen, want in Sura 3:46 staan daar:

Toe het sy (Maria) gesê: My Heer, hoe sal ek dan 'n seun hê as geen man by my ingaan? Ook so skep Allah wat Hy wil. Wanneer Hy iets beslis, sê Hy slegs: Wees, en dit word.

As Maria dan bonatuurlik deur God bevrug is met Jesus, wie kan Hy dan Sy Vader noem? 'n Vader is tog nie net iemand wat fisies bevrug nie, maar ook die bewerker of veroorsaker (originator) van iets. As Jesus nie vir God, wat Sy liggaamlike natuur deur sy bonatuurlike krag veroorsaak het, Vader kan noem nie, dan het Hy, volgens die Bybel sowel as die Quran, geen vader nie.

'n Mens wonder hoekom sou God die persoon, wie se geboorte Hy deur bonatuurlike bevrugting veroorsaak het, nie Sy Seun wil noem nie. Volgens die Quran wil Allah nie die seun wat hy na bewering veroorsaak het, deur te sê; ‘wees’, sy seun noem nie. Hy ag Hom darem hoog genoeg dat hy Hom lewend in die hemel opgeneem het. In Sura 4:157 word gesê dat ‘die Messias, Jesus’ nie doodgemaak is nie, en in vers 158 staan daar: "nee, Allah het hom (Jesus) in sy aanwesigheid verhewe." Ali (2000:81) se Engelse vertaling is duideliker: "No, Allah raised him (Jesus) up unto himself;" So, volgens die Quran neem Allah vir Jesus lewend in die hemel op, en dit terwyl die laaste en finale profeet volgens die Quran, op die ouderdom van 62 dood en begrawe is, en nog nie weer sy verskyning gemaak het nie.

Soos in die vorige aanhaling verwys die Quran ook in Sura 4:171 na Jesus as ‘Die Messias’. ‘Messias’ is 'n Hebreeuse woord wat ‘gesalfde’ beteken (word ook vertaal as Christus of ‘Christ’ in die Engelse vertalings van die Quran). Dit beteken niks anders nie as dat Hy (Jesus) die gesalfde van God is vir die verlossingswerk wat Hy moes kom doen.

Die feit is dat Jesus, as Seun van God, die Woord is wat vlees geword het, en onder die mense kom woon het as Eniggeborene wat van die Vader kom; Johannes 1:14:

"En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het Sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Enig geborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid."

1 Johannes 2:22,23 bevestig dit wanneer hy sê:

"22Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. 23Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie."

Kan die Seun van God iets anders wees as 'n Goddelike wese, ten spyte van die menslikheid wat Hy van sy aardse moeder gekry het? Hoekom sal God 'n gewone mens soos Mohammed verhoog bokant Sy Seun Jesus Christus, soos wat beweer word in die Quran en Hadis?

Islam is egter reg in die sin dat Allah nie Jesus se Vader is nie. Allah het niks met Jesus se geboorte te doen gehad nie, want Jesus is die Seun van die ware
God, Jahweh, wat gekom het om die mense (wat dit wou glo en aanvaar) van sonde te verlos en met Hom te versoen.