Volgens die Quran sê Mohammed dat Jesus Christus slegs 'n profeet is soos hy. Hy stel homself egter bokant Jesus, want hy sê dat hy self die finale profeet met die finale openbaring van God is. 'n Vergelyking van enkele aspekte uit die aardse lewens en persoonlikhede van hierdie twee persone behoort die eerlike soeker na waarheid gou tot die besef te bring dat daar eintlik geen vergelyking is nie. Net soos Satan homself aan God wou gelykstel en selfs bo God wou verhef, sonder sukses, is daar niemand anders wat homself suksesvol gelyk kan stel of kan verhef bo Jesus Christus nie.
Die Quran en die Hadis erken Jesus se maagdelike geboorte en dat Hy wonderwerke gedoen het:
Sura 3:46: “Toe het sy (Maria) gesê: My Heer, hoe sal ek dan 'n seun hê as geen man by my ingaan nie? Ook so skep Allah wat Hy wil. Wanneer Hy iets beslis sê Hy slegs: Wees, en dit word.”
Die Quran ontken dat Jesus gekruisig is en beweer dat Hy lewend in die hemel opgeneem is. Die Hadis sluit hierby aan en beweer dat Hy tans, na 2000 jaar, nog lewe in die hemel, dat Hy in die laaste dae sal terugkeer aarde toe, dat Hy dan die Antichris (Dajjal) sal onderwerp en hom doodmaak, Islam as geloof op aarde sal vestig en dan sal sterf.
Is dit nie vreemd dat iemand wat volgens Islam nie so 'n groot profeet soos Mohammed was nie, nog na 2000 jaar leef terwyl Mohammed dood is, en dat hierdie ‘minderbelangrike Profeet’ sal terugkom om Islam te vestig? Die feit dat Jesus na 2000 jaar volgens Islam nog lewe terwyl die sogenaamde ‘laaste profeet’ (Mohammed) in 632 n.C. dood en begrawe is, word nie verduidelik nie.
Sura 4:157: “...en hulle het hom nie gedood nie, en ook nie tot die dood toe gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk of dit so is."
(Ali, 2000:80) se vertaling van die laaste gedeelte van vers 157 en 158 is as volg:
“They killed him not:- Nay, God raised him up unto Himself;”
Die samesteller van die Al-Hadis, Karim (1998(Vol.4):50,79), skryf onder die opskrif: ‘Groter tekens voor die Uur’ (Greater signs before the Hour) op bl. 50 van Vol. 4 die volgende:
“Dan sal Jesus wat tans in die hemel lewe, neerdaal uit die hemel en Dajjal met sy eie hand doodmaak.” waarna Hy dan sal sterf, volgens bl. 79.
Dajjal is 'n raaiselagtige wese, (waarskynlik die Antichris volgens Moslem tradisie) wat blykbaar ook reeds meer as 1 400 jaar leef. Hy word as volg beskryf deur Karim (1998(Vol.4):51,77) in die Al-Hadis:
“Dajjal het gelewe of is ten minste gebore in die tyd van die Heilige Profeet. Hy sal eers doodgaan wanneer hy deur Jesus doodgemaak sal word, in die tussentyd word hy aangehou in sterk yster kettings.”
Waar hy gehou word is onbekend (aan skrywer). Aan sy verdere beskrywing klink hy soos iets uit Star Wars of ander soortgelyke okkultiese fiksie. Selfs sy pa word beskryf as lank met 'n lang neus en sy ma as vet met lang hande. Dit is egter nie duidelik hoekom hy so vreesaanjaend is nie, behalwe vir die feit dat hy in die laaste dae blykbaar vrygelaat sal word, dat hy buitensporig groot is (“daar is 'n afstand van 70 el tussen sy oë”) en dat hy gevolg sal word deur 70 000 Jode “met hoede of swart hooftooisels.”
As gevolg van hierdie ooglopende verdraaiing van die feite in verband met Jesus se koms na die aarde, besef Moslems nie dat Jesus ook vir hulle verlossing van sonde en versoening met God bewerkstellig het nie. As hulle dit net wil glo en aanvaar. Dit word egter vir hulle by na onmoontlik gemaak deur die swaar straf vir afvalligheid, soos wat reeds aangetoon is.
Moslem boeke praat van die Antichris sonder om te verduidelik wie en wat hy is. Die Bybel praat ook van die Antichris. In 1 Johannes 2:22 is dit duidelik dat die Antichris die leuenaar is wat ontken dat Jesus die Christus is, die gesalfde van God, wat gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem. Daar staan geskryf:
"Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën."
Volgens die Bybel het Jesus, as die Seun van God, in die vlees na die aarde gekom om die prys vir die mens se sondeskuld te betaal, en die mens met God te versoen. Efesiërs 1:7:
“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade...”
Hy het egter nie net gekom om 'n mens van die gevolge van sonde te verlos nie, maar ook van sonde self. Romeine 6:11:
“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here.”
Vervolgens sê vers 14:
“Want die sonde sal oor julle nie heers nie;”
Jesus kom in nederigheid na die aarde om te dien en nie om gedien te word nie. Die liefde van God word duidelik uit alles wat Hy leer en sy optrede bevestig hierdie liefde van Hom. Jesus was sondeloos, en dit (Sy sondeloosheid) is niks anders as volmaakte liefde nie. Liefde is die vervulling van die wet en Hy het die wet kom vervul.
“Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.” (Romeine 13:8, OAV).
As sulks is Hy nie net liefdevol nie, maar Hy is liefde. Dit is nog 'n bewys dat Hy God is, want God is liefde. Jesus se nederigheid en liefde blyk duidelik uit die volgende: In Mattheus 20:28 sê Jesus dat Hy
“...nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.”
In Johannes 13:5 was Jesus Sy dissipels se voete. Volgens Filippense 2:8:
“...het Hy (Jesus) Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
In verband met nederigheid leer Jesus ook in Mattheus 18:4:
“Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”
In teenstelling met Jesus se nederigheid word die volgende in die Hadis gelees, wat 'n aanduiding behoort te gee van hoe ‘nederig’ Mohammed was:
Al-Hadis (Karim, 1998:44:18(Vol.4):323): “die Boodskapper van Allah het gesê: Ek sal die leier van die kinders van Adam wees op die Opstandingsdag en dit is nie grootpratery nie, en in my hand sal die banier van roem wees en dit is nie grootpratery nie, en daar sal in daardie dag geen Profeet wees, Adam of enigiemand anders wat nie onder my banier sal wees nie, en ek sal die eerste wees wat uit die aarde sal voortkom en dit is nie grootpratery nie.”
Mohammed en Islam beskou Jesus Christus as 'n profeet. Volgens hierdie aanhaling sal Jesus dus onder Mohammed se banier wees. Daar is geen twyfel dat hy homself bokant Jesus stel nie.
Al-Hadis (Karim, 1998:44:21(Vol.4):325): “die Profeet het gesê: Aan my sal gegee word 'n kleed uit die klere van die paradys. Dan sal ek staan aan die regterkant van die Troon. Daar sal niemand wees onder die skepsele behalwe ek wat daar sal staan nie.”
Hiervolgens kry Mohammed die ereplek aan die regterkant van die troon ten koste van Jesus. Volgens Islam se eie boeke leef Jesus nou in die hemel terwyl Mohammed dood is, maar hulle aanvaar dit dat Mohammed homself so bokant Jesus verhef.
Al-Hadis (Karim, 1998:44:23(Vol.4):326): “die Heilige Profeet het gesê: Wanneer die Opstandingsdag aanbreek, sal ek die leier wees van die profete en ek sal vir hulle intree,”
Mohammed: Jesus se leier?
Volgens die Bybel het Jesus geen sonde gedoen nie en Islam ontken dit nie. Dit skep vir Islam 'n probleem, want dit is duidelik dat Mohammed sonde gedoen het. Hoewel die Al-Hadis van Fazlul Karim daarop aanspraak maak dat Mohammed sondeloos was, word dit deur aanhalings uit Al-Bukhari se Hadis, sowel as die Quran, weerspreek. Al-Bukhari (Khan, 1987:319(Vol.8):213):
“Ek het Allah se Boodskapper hoor sê: ‘By Allah! Ek vra vergifnis van Allah en wend my tot Hom in berou meer as sewentig keer per dag.”
Hierdie is maar een van talle voorbeelde uit Al-Bukhari waar Mohammed by Allah om vergifnis gevra het vir sy sonde. In die volgende aanhaling gaan dit ongetwyfeld oor Mohammed self.
Sura 48:1,2: “Voorwaar, Ons (Allah) het aan u (Mohammed) 'n duidelike oorwinning verleen, sodat Allah u tekortkominge (‘faults’ volgens Y Ali) van die verlede en van die toekoms kan bedek (‘forgive’ volgens Y Ali), en dat Hy sy guns aan u kan volbring en u op die regte pad kan lei,"
Dit is duidelik dat die oorwinning wat hy op die slagveld behaal het vir hom vergifnis vir vorige sowel as toekomstige ‘tekortkominge’ verwerf het. Onthou: in Islam kanselleer goeie dade sonde uit, en in hierdie geval was Mohammed se sukses op die slagveld genoeg om sy sonde te bedek. Dit is werklik 'n vertalingsprobleem as hy sondeloos was. As ‘tekortkominge’ nie sonde is nie, hoekom moet dit vergewe of bedek word? En hoekom moet 'n sondelose mens op die regte pad gelei word?
Soos reeds aangedui, is daar nie in die Quran 'n duidelike omskrywing van wat sonde is nie, wat dit baie moeilik maak om vas te stel of iemand sonde gedoen het. Uit Mohammed se tradisies (die Hadis), ook die wat hier aangehaal is, is daar egter heelwat dinge wat Mohammed gedoen het wat, volgens die Bybelse definisie, as sonde sou deurgaan.
Volgens die Bybel is oortreding van die wet sonde (1 Johannes 3:4 & Romeine 4:15). Die wet word saamgevat in die liefdesgebod (Mattheus 22:37-39 ea), soos reeds aangetoon. Dit sou beteken dat alle liefdelose optrede sonde is. Hierdie liefde is nie 'n emosie (gevoel) nie, maar 'n ingesteldheid om te alle tye welwillend (benevolent) op te tree teenoor God en jou naaste (almal met wie jy te doen kry). Liefde beteken dat jy nooit iets doen aan iemand wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie en dat jy altyd aan 'n ander doen wat jy in dieselfde omstandighede graag aan jouself gedoen sou wou hê.
Die liefdeloosheid van Mohammed se optrede, met ander woorde sy sonde (volgens die Bybelse definisie van sonde), is duidelik uit al die aanhalings uit die Hadis van die dinge wat hy sou gesê en gedoen het.
Mohammed se vroue
Jesus as Seun van God het nooit getrou tydens sy verblyf en werk hier op aarde nie, en Hy was sondeloos in alle opsigte. Mohammed het egter meer vroue gehad as wat 'n Moslem volgens die Quran mag hê. Volgens Sura 4:3 is vier die maksimum aantal vroue wat 'n Moslem man mag hê. Gerieflikheidshalwe het die Quran Mohammed egter uitgesonder vir voorregte, sover dit vroue betref, wat nie vir ander Moslems beskore was nie. Allah gee vir Mohammed spesiale toestemming in Sura 33:50
"O Profeet, Ons (Allah) het u vroue vir u wettig gemaak aan wie u bruidskatte gegee het; en diegene van hulle wat u regterhand besit, wat Allah as oorlogsbuit aan u gegee het, en die dogters van u ooms van vaderskant, en die dogters van u tantes van vaderskant, en die dogters van u ooms aan moederskant, en die dogters van u tantes aan moederskant, wat met u gevlug het; en 'n (volgens Engels: any) gelowige vrou, indien sy haarself aan die Profeet toevertrou, as die profeet begeer om met haar te trou; dit is slegs vir u en nie vir die gelowiges nie –"
Mohammed het hierdie vergunning terdeë benut en vir homself heelwat vroue geneem waarvan sommige nog kinders was toe hulle sy vroue geword het. Oor die hoeveelheid vroue wat hy gehad het verskil Moslem bronne. Al-Bukhari noem op een plek nege en op 'n ander plek elf. Dit was waarskynlik korrek maar op verskillende tye. Die volgende aanhalings uit Al-Bukhari werp heelwat lig op Mohammed se seksuele aptyt en bedrywighede: (Khan, 1987:268(Vol.1):165):
“Anas bin Malik het gesê, 'Die Profeet besoek gewoonlik al sy vrouens in 'n rondte, gedurende die dag en aand en hulle is elf in getal.' Ek het vir Anas gevra, of die profeet die krag daarvoor het, Anas het geantwoord, 'Ons sê gewoonlik dat die Profeet die krag van dertig man het'."
Volgens Al-Bukhari (Khan, 1987:6(Vol.7):5) het Anas as volg gerapporteer:
"Die Profeet gaan gewoonlik rond by (hou seksuele gemeenskap met) al sy vrouens in een nag, en hy het nege vrouens."
Die ouderdom van Mohammed se vroue was ook nie vir hom belangrik nie. Een van sy vroue was so jonk dat dit Mohammed in vandag se terme, en sonder Allah se spesiale goedkeuring, 'n pedofiel sou maak. Volgens (Khan, 1987:64(Vol.7):50): skryf Al-Bukhari in verband met Mohammed se huwelik met Aisha:
"...dat die Profeet met haar 'n huwelikskontrak aangegaan het toe sy ses jaar oud was, en die huwelik het 'n aanvang geneem toe sy nege jaar oud was, en dat sy toe by hom gebly het vir nege jaar (d.i. tot sy dood)."
(Khan,1987:88(Vol.7):65) gee dieselfde inligting. Oor Aisha, wat as kind Mohammed se vrou geword het, sê Karim (1998:27:28(Vol.2):636) as volg:
"Aisha het gerapporteer dat die Boodskapper van Allah met haar getrou het toe sy sewe was. Sy was op die ouderdom nege na hom toe gestuur saam met haar speelgoed."
In verband met Mohammed se aantal vroue noem Karim (1998(Vol.4):478) die name van twaalf vroue. Morey (1992:85-86) gee 'n naamlys van twee en twintig vroue wat deur 'n ander Moslem geleerde, Ali Dashti, saamgestel is, waarvan sestien met Mohammed getroud was, twee was slawe wat hy as vroue gehou het en vier was toegewyde Moslem vroue wat hulleself aan Mohammed oorgegee het ter wille van sy seksuele bevrediging.
Toe Mohammed met sy aangenome seun Zeid (Zaid) se vrou Zeinab (ook Zainab of Zaynab), wou trou en hulle onwillig was in verband daarmee, was daar nog 'n gerieflikheidsuitspraak van Allah in die Quran in Sura 33: 36-37:
"En dit betaam nie 'n gelowige man of 'n gelowige vrou, wanneer Allah en sy Boodskapper (Mohammed) oor 'n saak besluit het, dat daar nog vir hulle 'n keuse in die saak sal wees nie. En hy wat Allah en sy Boodskapper (Mohammed) nie gehoorsaam nie, het inderdaad 'n verkeerde koers ingeslaan. En toe u aan hom, aan wie Allah sowel as u guns bewys het, gesê het: Behou u vrou en kom u plig teenoor Allah na. En u het in u hart verberg wat Allah aan die lig wou laat kom; en u het die mense gevrees, terwyl Allah meer reg daarop het dat u hom sou vrees. En toe Zeid van haar geskei het, het Ons (Allah) haar as vrou aan u gegee, sodat daar vir die gelowiges geen beswaar meer sal wees ten opsigte van die vroue van aangenome seuns, nadat hulle geskei is. En die gebod van Allah moet uitgevoer word."
Jesus het Homself geoffer om die mens met God te versoen, maar vir Mohammed het dit gegaan oor mag, eer, aansien en plesier. Mag die Here die leser wat nog nie gekies het nie se oë open dat hy kan onderskei tussen 'n vals profeet en die ware Verlosser.
