Die vraag wat beantwoord moet word is of Allah liefde is. Daar moet bepaal word of hy alle mense liefhet, ongeag wie hulle is, en of al sy dade voortspruit uit 'n wese wat liefde is. Hier moet in gedagte gehou word dat 'n God van liefde wel opdrag kan gee dat mense doodgemaak moet word, maar dan slegs wanneer dit uit liefde is. ’n God van liefde kan met geweld optree in die geval van mense van wie Hy weet dat hulle totaal verdorwe is, dat daar geen moontlikheid van bekering by hulle bestaan nie, en dat hulle sy reddingsplan vir die mens in die wiele sal ry. Dit gaan dus nie daaroor om mense aan Hom te onderwerp nie, maar om te voorkom dat hulle meer skade maak aan die uitvoering van sy spesifieke plan.
Volgens die Quran
Wanneer 'n mens die Quran lees wil dit voorkom of Allah se liefde nie algemeen vir alle mense is nie, en dat slegs die mense wat dit verdien sy liefde ontvang. Die volgende aanhalings uit die Quran gee 'n aanduiding van wie kwalifiseer vir Allah se liefde, en wie nie:
Sura 2:190: “Voorwaar, Allah het geen liefde vir die oortreders nie.”
'n God wat die oortreders nie lief het nie het geen rede om hom met hulle te bemoei nie. Is almal nie maar op een of ander stadium van die lewe oortreders nie? Wie sal dan kwalifiseer vir Allah se liefde?
Sura 2:195: “Voorwaar, Allah het die weldoeners lief.”
In hierdie geval moet die oortreders eers weldoeners word voordat hulle op sy liefde kan reken. 'n Mens wonder of hierdie 'weldoeners' nooit oortree nie. Indien wel is Allah se liefde vir hulle maar baie wisselvallig. Dit is daar as 'n mens goed doen en weg as 'n mens oortree. Is dit moontlik dat 'n Moslem die inherente vermoë besit om glad nie te oortree nie en dus altyd op die liefde van Allah kan staatmaak?
Sura 2:222: “Voorwaar, Allah bemin hulle wat hulself tot Hom wend, en Hy bemin die gereinigdes.”
Sura 5:13: “Allah het hulle wat goed doen, waarlik lief.”
Net soos die 'weldoeners' hierbo, kwalifiseer diegene wat hulle tot Allah wend asook die gereinigdes en diegene wat goed doen vir die liefde van Allah. Slegs diegene wat dit verdien, kan dus reken op Allah se liefde.
Sura 6:142: “Voorwaar, Allah het die verkwisters nie lief nie."
Dit is nie seker wat met verkwisters bedoel word nie. Dit lyk of dit gaan oor mense wat oorvloed het aan vrugte en kos en dit dan vermors (Engels ‘wasters’). Dit is ongetwyfeld verkeerd om te verkwis, maar 'n mens wonder of dit genoeg rede is om God se liefde te verbeur.
Sura 7:55: “Hy (Allah) het die oortreders waarlik nie lief nie.”
Die aard van die oortredings is nog steeds nie seker nie.
Sura 3:30: “As julle Allah liefhet, volg my (Mohammed); Allah sal julle dan liefhê en julle sonde vergewe.”
Allah straf nie noodwendig sonde soos 'n regverdige God behoort te doen nie, as jy hom liefhet en Mohammed volg, sien hy jou oor en vergewe hy jou.
Sura 4:107: “Pleit nie vir hulle wat hul siele onreg aangedoen het nie. Voorwaar, Allah het hom nie lief wat verraderlik en sondig is nie.”
‘Verraderlik’ is blykbaar afvalligheid van Allah en ‘sonde’ word nooit duidelik omskryf nie. Dit is egter duidelik dat Allah net sekere mense liefhet, want daar is geen aanduiding in die Quran dat Allah alle mense liefhet nie.
Volgens die Hadis
Wat betref die vier volumes van Al-Hadis, sowel as die nege volumes van Al-Bukhari se samestelling van die Hadis, is daar in die inhoudsopgawes 'n groot verskeidenheid onderwerpe wat behandel word. Aan die profeet Mohammed word, in Al-Hadis, meer as 250 bladsye bestee onder opskrifte soos, “Die grootste wetgewer"; "Die grootste held en militêre aanvoerder"; "Die grootste welwillende man"; "'n Groot onderwyser van gesondheid en higiëne”; ens. Verder is daar onderwerpe soos, “Niesery en gapery; Kammery en haarkappery; Oog verf; Jihad (Heilige Oorlog); Seksuele gemeenskap; Veelwywery”, en verskeie ander onderwerpe. Daar is egter geeneen oor die liefde van Allah nie. Die naaste daaraan is “Liefde en haat vir (ter wille van) Allah”.
Onder laasgenoemde onderwerp staan daar in Al-Hadis (Karim, 1998:4:273(Vol.1):506) die volgende:
“Die Heilige Profeet het gesê: Die handeling wat vir Almagtige Allah die kosbaarste is, is liefde ter wille van Allah en haat ter wille van Allah.”
Die vraag ontstaan nou: wat bedoel die Profeet presies? Die samesteller (Karim,1998:4:273(Vol.1):501) verduidelik onder die sub-opskrif: Haat vir Allah se onthalwe:
“Indien 'n Moslem die leringe van Islam en sy groot leermeester (Mohammed) liefhet, kan hy nie anders nie as om andere lief te hê wat ook hierdie leringe navolg en ook Allah en sy Apostel (Mohammed) liefhet nie. Aan die anderkant is dit ook natuurlik vir hom om ook die te haat wat die leringe van Islam verwerp, en nie die gebooie van Allah en sy Apostel gehoorsaam nie.”
Karim laat geen twyfel dat Allah van alle Moslems verwag om die mense te haat wat Islam verwerp, en dit is alle nie-Moslems. Hy maak egter ook aanspraak daarop dat Moslems mekaar altyd liefhet. Daar is egter reeds aangetoon dat Moslems hewig onder mekaar veg en mekaar doodmaak. Hulle is dus nie altyd sò lief vir mekaar soos wat hier beweer word nie. Hy sê verder van die mense wat Islam verwerp en dus gehaat moet word; “Hulle is die slegste mense in die oë van Islam.” Hy verwys dan na Sura 8:55 in die Quran wat sê:
“Waarlik, die veragtelikste beeste in die oë van Allah is hulle wat nie glo nie omdat hulle nie wil nie.”
Dit is dus geen wonder dat sulke slegte mense in die oë van Islam gehaat moet word nie. Hou steeds in gedagte dat dit almal is wat Islam as 'n godsdiens verwerp.
Oor hierdie ‘geregverdigde’ haat ter wille van Allah sê hy verder, steeds op bl. 501:
“Intensiteit van haat is grootste in die geval van iemand wat aan veelgodery glo, groter in geval van mense van die Boek (Christene en Jode), en groot in die geval van Moslem afwykendes en groot sondaars.”
Die minimum vereiste vir die omvang van hierdie haat is dus groot in geval van gewone sondaars, maar dit is groter in die geval van Christene en Jode. As gevolg van die Drie-Eenheidsbegrip van God, word Christene ook soms deur Moslems beskuldig van veelgodery, wat beteken dat in hulle geval die omvang van 'n Moslem se haat vir hulle die grootste moet wees.
In die Hadis word nog 'n aanduiding gevind dat Allah nie alle mense liefhet nie, en wel in Al-Hadis (Karim, 1998:4:265(Vol.1):503):
”die Boodskapper van Allah het gesê: Wanneer Allah 'n man liefhet, dan roep hy Gabriël en sê: Ek het so en so lief, so jy moet hom ook liefhê. Dan kondig hy (Gabriël) in die hemel aan: Allah het so en so lief, so julle moet hom ook liefhê. Dan het al die inwoners van die hemel hom lief.”
Hieruit is dit duidelik dat dit 'n prestasie is as Allah jou liefhet, en dit is in ooreenstemming met die bogenoemde aanhalings uit die Quran, naamlik dat Allah net sekere mense liefhet en nie alle mense nie. Sou dit onredelik wees om hieruit af te lei dat Allah slegs diegene liefhet wat hom liefhet? Dit blyk wel die geval te wees, veral vir sover dit diegene betref wat vir hom veg. Daar sal meer duidelikheid kom wanneer daar later in meer besonderhede aandag gegee word aan Jihad (Islam se heilige oorlog) en Islam se Paradys.
Maar wat is die God van die Bybel se gesindheid teenoor die mens?
