Jahweh, die God van die Bybel, haat geweld. God beskou geweld in so 'n ernstige lig dat Hy besluit om die mensdom uit te wis as gevolg van hulle geweldadigheid. In Genesis 6:13 sê God vir Noag, voor die sondvloed:
“Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld.”
Die God van die Bybel maak sy ontevredenheid bekend oor sy uitverkore volk se geweld in Jesaja 59:6b:
“...hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande.”
Ook in Amos 3:10 spreek Jahweh Hom uit teen die geweld en verdrukking waaraan sy volk hulle skuldig maak:
“Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die Here – hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise.”
Niemand kan egter ontken dat ‘Christene’ en organisasies in die naam van die Christendom, gruwelike dade van geweld gepleeg het in die geskiedenis van die mens nie. Dink maar aan die Inkwisisie waar die Rooms Katolieke Kerk (RKK) duisende sogenaamde ketters (afvalliges) gruwelik gemartel en doodgemaak het. Dit was gewoonlik die ware Christene teen wie opgetree is en wie dit moes ontgeld. Verder was daar die Kruistogte (Crusades), ook deur die RKK, waartydens duisende mense doodgemaak is, net omdat hulle nie ‘Christene’ was nie. Duisende Jode en ook Arabiere is onder andere voor die voet doodgemaak in die naam van Christendom.
Selfs Hervormers was geweldadig. Martin Luther het geweld teen Jode aangemoedig. Calvyn was betrokke by die teregstelling van minstens een ‘teenstander’, ene Michael Servetus. Die Switserse Hervormer, Zwingli, sterf op die slagveld na 'n aanval deur Rooms Katolieke groepe. Sogenaamde Protestante en Katolieke veg al dekades lank teen mekaar in Noord-Ierland, onder die naam van Christelike groeperinge, wat in wese niks anders as politieke partye is nie. Hierdie partye het ontwikkel uit tradisioneel godsdienstige sienings wat, reeds in die ontwikkelingsfase daarvan, ver verwyderd was van ware Bybelse Christenskap. Daar kan nog baie voorbeelde genoem word.
In geeneen van hierdie gevalle kan die ‘Christene’ hulle gewelddadige optrede uit die Bybel regverdig nie. Reeds in die Ou Testament is God se opdrag aan die mens dat hy sy naaste, insluitende vreemdelinge, moet liefhê. Daar is reeds hierna verwys. God sê in Levitikus 19:18:
“...jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
God sê ook in Levitikus 19:34:
“Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself,”
God dring aan op liefde teenoor vreemdelinge in Deuteronomium 10:19:
“Daarom moet julle die vreemdeling liefhê,”
God is ernstig hieroor. Deuteronomium 27:19:
“Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai;”
Geweld in die Christendom is nie Jahweh se skuld nie en waarskynlik ook nie ware Christene se skuld nie. Hoewel dit moontlik is dat Christene wat onder misleiding is by dade van geweld betrokke kan wees, is dit meer waarskynlik dat mense wat as Christene beskou word, maar dit nie werklik is nie, die skuldiges is. Hierdie ‘Christene’, soos die meeste mense wat vandag deurgaan as Christene, ken nie die Bybelse definisie van ware Christenskap nie.
Daar is reeds aangetoon dat 'n regverdige en liefdevolle God, juis as gevolg van hierdie eienskappe, 'n plig het om te straf en te beskerm. Dit was daarom onvermydelik dat God soms sy volk moes dissiplineer en soms streng teenoor heidense volke, deur toedoen van sy volk Israel, moes optree. Dit was egter juis die gevolg van Sy liefde vir die mens. Sy verlossingsplan was in gedrang en dit was die enigste manier om dit op koers te hou.
Satan het van die begin af God se plan vir die mens se verlossing uit die mag van die duisternis probeer fnuik. Daarom het hy die volk waardeur God die wêreld wou seën, van die begin af nie net probeer uitwis nie, maar wou hulle ook tot afgodery mislei, wat hy ook dikwels reggekry het. God het gevolglik soms sy uitverkore volk deur ander nasies gestraf vir hulle afvalligheid, en soms het Hy Israel opdrag gegee om op te tree teen sekere vyandige en heidense volke. Daar was egter 'n rede vir elk van hierdie opdragte. Dit het hoofsaaklik gegaan oor die suiwering en gereedmaking van die volk waardeur God die wêreld wou seën deur sy Verlosser, Jesus Christus. Dit was nooit bedoel as 'n algemene reël vir optrede teenoor ander volke, of dat Israel kan oorheers nie.
Jesus Christus, God se Verlosser vir elke mens wat wil, kom in die Nuwe Testament, en maak dit duidelik dat liefde vir God bo alles, en liefde vir jou naaste soos vir jouself, die samevatting van God se wet is, volgens Mattheus 22:37-39:
"En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
Slegs die mens van wie “die god van hierdie wêreld die sinne verblind het,” (2 Korinthiërs 4:4) is nie in staat om die groot liefde van God hierin te sien nie.
Hoe kan 'n mens sê dat jy God liefhet as jy jou teen sy opdrag in skuldig maak aan geweld en bloedvergieting? Hoe kan 'n mens sê dat jy jou naaste liefhet soos jouself, as jy geweld pleeg teen hom?
Wanneer 'n mens vir God sou vra: ‘As U 'n God van liefde is en almagtig is soos wat die Bybel leer, waarom dan al die geweld en sinnelose lyding in hierdie wêreld?’ Sy antwoord kan dan, gegrond op die Bybel, en in diepe ootmoet en respek, die volgende wees: “In My alwysheid het Ek mense geskep om met My in ‘n liefdesverhouding te lewe, hulle was in my teenwoordigheid en onder My beheer. Hulle het gekies om teen My waarskuwing in hulle eie belange bò Myne te stel en was ongehoorsaam. Ek is regverdig, en daarom het Ek hulle uit my teenwoordigheid, onmiddellike beheer en verantwoordelikheid weg gestuur in ‘n wêreld in wat in die mag van die bose is. Indien Ek nie volgens My waarskuwing opgetree het nie, sou Ek van niemand, insluitende die engele, kon verwag om My ooit weer te glo en ernstig op te neem nie. Waarheid is verder deel van My, wat beteken dat Ek nooit een ding sal sê en dan 'n ander ding doen nie. Dit was hulle keuse teen My waarskuwing in. Onthou, om van My verwyder te wees is geestelike dood. Ek is liefde en daarom begeer Ek steeds dat hulle vrywillig na My moet terugkeer. Daarom het Ek deur die eeue altyd met die mense wat ‘n begeerte na My gehad het bemoeienis gemaak. Vanuit sulke mense het Ek vir My ‘n volk voorberei deur met hulle ooreenkomste aan te gaan, waarin hulle nie gedwing is nie. Deur hierdie volk (Israel) het Ek voorsiening gemaak vir die mens se versoening met My, ('n seën vir die wêreld) deur My Seun, Jesus, te stuur as losprys en versoening vir hulle sonde. Almal wat dit vrywillig aanvaar, en nou deur My krag in hierdie liefde van My lewe, is met My versoen. Dit sal onregverdig wees om die mens te dwing – op verskillende moontlike maniere – om na My terug te keer. Hulle kan slegs vrywillig terugkeer. Deur die eeue het Ek nog net ingegryp (deur redding sowel as straf) in mense se lewens wat My vrywillig gesoek het en wat deur vrywillige ooreenkomste (verbonde) aan My verbind was. Dit is ook net sulke mense se gebede wat Ek verhoor, Ek luister nie na die gebede van mense wat in sonde (liefdeloosheid) lewe nie al noem hulle hulle-self gelowiges. Daar is baie mense wat hulleself Christen-gelowiges noem, maar net deel vorm van die gelowiges uit selfsugtige motiewe, met die oog op voordeel wat hulle daaruit kan kry. Hierdie mense het hulleself nog nie verloën nie en is nie bereid om My met hulle lewens te vertrou nie. Hoewel Ek hierdie mense ook liefhet en begeer dat hulle na My moet terugkom, sodat Ek hulle gebede, insluitende gebede om beskerming, kan verhoor, kan Ek dit as gevolg van My regverdigheid nie doen nie. Hulle is juis al so verdorwe en ongelowig en op hulleself gesentreerd dat as ek hulle sou beskerm, sonder dat hulle eers daarna vra, sal dit hulle net in hulle kwaad sterk. Andere dring weer aan op my beskerming en hulp omdat hulle daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, maar Ek ken hulle nie want hulle doen nie My wil nie (sien Mat. 7:21: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.") Ware gelowiges leef nog fisies as vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld, wat tans nog in die mag van die bose is, en hulle is ook dikwels onderworpe aan pyn en lyding as gevolg van andere se sonde (soms van hulle eie sonde). Ek is egter met hulle elke oomblik, en in My almag sorg Ek dat alles vir hulle ten goede meewerk.”
Hieruit behoort die redes vir geweld, pyn en lyding in die Christendom duidelik te wees. Die God van die Bybel is teen geweld, en slegs die mens se sonde (liefdeloosheid) noodsaak geweld van sy kant af, wat Hy in die eerste plek sou wou verhoed. Geweld wat deur Jahweh geïnisieer word is uitsluitlik om Sy verlossingsplan vir die mens te beskerm, en die motief daarvoor is liefde. Alle ander geweld is teen God se wil en is sonde teen Hom. Maar wat sou die redes vir geweld in Islam wees?
