Vir diegene wat vir die paradys kwalifiseer, wag daar baie plesier en dit sal vir ewig aanhou. Saam met Jihad (heilige oorlog) is die Paradys, of Tuine, die saak wat die meeste aandag in die Quran kry. Dit word hier bespreek omdat dit die vergoeding of prys is wat Allah betaal vir diegene wat vir hom veg, Sura 9:111:

Voorwaar, Allah het van die gelowiges hulle persoon en hul besittings gekoop, sodat hulle die paradys daarvoor in ruil sal ontvang. Hulle veg op die weg van Allah en bring om, en word ook omgebring.” Sien ook hoofstuk 11:iii Jihad.

Islam se Paradys is 'n plek van sinlike genot waar eet, drink en seks die hoofbestanddele is. Soos reeds gemeld, is Jihad vir die Moslem die enigste seker manier om in die paradys te kom. Dit verklaar waarskynlik ook waarom mans die mees bevoorregtes in die paradys is. Daar moet onthou word dat daar vir elke man minstens 72 maagde is. Dit is nie seker of hierdie maagde die vrouens op aarde is wat gekwalifiseer het vir die paradys nie. Indien 'n man, ongeag sy ouderdom, in die paradys soos 'n dertig- tot twee-en-dertig jarige man sal wees, is daar seker geen rede hoekom 'n ouer getroude vrou op aarde nie kan verander tot 'n maagd in die paradys nie. Daar is darem vir hulle die skrale troos dat, al is hulle maar een van minstens 72, die man darem in die paradys die seksuele vermoë van 'n honderd mans sal hê. 'n Verdere ‘voordeel’ is dat die man altyd jonk sal bly. Die maagde waarskynlik ook. Volgens Al-Hadis (Karim, 1998(Vol.4):161) is daar nog 'n ‘voordeel’ en dit is dat:

Ten spyte van verlengde gemeenskap, sal geen kind gebore word nie."

Dit rym egter nie dat daar meer vrouens in die paradys gaan wees nie, want in die hel gaan daar blykbaar ook meer vrouens wees. Volgens Sahih-Al-Bukhari se samestelling van die Hadis in (Khan, 1987:28,301 (Vol.1) & 2:161), het Mohammed die volgende gesê:

Die hel se vuur is aan my gewys, en die meerderheid van die inwoners was vrouens.

Daar is, in die Quran, 'n minimum van 82 verwysings na hierdie Tuine of Paradys waar die Moslems, wat dit verdien, vir ewig gaan vertoef. Hier word slegs enkeles aangehaal: Sura 2:25:

En verkondig 'n blye tyding aan hulle wat glo en goeie dade doen, dat daar vir hulle tuine is waardeur riviere vloei. ...En daar sal vir hulle rein metgeselle wees om saam daarin te vertoef.

Die 'hulle' hierbo is mans en die 'rein metgeselle' wat saam met die mans in die tuine sal wees is vrouens. Sura 37:42-45, 48 noem dat daar vir die gesuiwerdes sal wees:

Vrugte, En hulle word geëer in Tuine van genot, op trone, teenoor mekaar. ...En naas hulle sal vrouens wees van beskeie blik, met pragtige oë,

Weereens is die 'gesuiwerdes' mans en hulle vergoeding is vrouens met pragtige oë. Vir die pligsgetroues sal daar volgens Sura 38:50-52 wees:

Tuine van ewigheid waarvan die deure vir altyd wyd oop is en waarin hulle hul sal neervly en aanroep, en waarin oorvloedig vrugte en drank is. En saam met hulle sal daar kuise vroue wees, metgeselle van gelyke leeftyd.

Die vergoeding is hoofsaaklik steeds vroue. Sura 44:52, 54: Diegene wat hulle plig (in Jihad) nakom, sal hulle bevind in:

In die tuine met bronne, ...En Ons (Allah) sal hulle met suiwer, skone metgeselle verenig.

Waar Allah beloof om self betrokke te wees by die 'vereniging' van die mans met die 'skone metgeselle'. Allah beloof ook in Sura 47:15:

'n Beeld van die Paradys wat aan die pligsgetroues belowe word: Daarin sal strome van water wat nooit sleg word nie, en strome van melk waarvan die smaak nie verander nie, en strome van wyn, smaaklik vir die drinkers, en strome van gesuiwerde heuning; en daar is vir hulle allerlei vrugte, asook beskerming van hulle Here.

Vir Moslems wat hier op aarde nie wyn mag drink nie (dit is nr.9 op die lys van 53 ernstige sondes) word dit blykbaar in die Paradys toegelaat. Allah belowe ook in Sura 52:17,19,20:

Die pligsgetroues sal sekerlik in Tuine en geluksaligheid wees, ...Eet en drink met genoë as verdienste vir julle dade, en vly jul neer op trone wat in rye gerangskik is. En Ons (Allah) sal hulle met skone metgeselle verenig.

Allah is hiervolgens duidelik steeds persoonlik betrokke by die 'vereniging' van die mans met ‘skone metgeselle’. En daar word gesorg dat die metgeselle bewaak word volgens Sura 55:70,72,74,76:

Daarin is goeie en mooi meisies, ...Skone maagde in pawiljoene gehuisves. ('close-guarded in pavilions' volgens Pickthall en 'Maidens restrained in pavilions' volgens Y. Ali 2000) ...Geen man of djien (gees) het hulle nog aangeraak nie. ...Hulle sal hul neervly op groen kussings en pragtige tapyte.

Dit wil voorkom uit die twee Engelse vertalings of hierdie 'skone maagde' teen hulle sin aangehou word, want indien hulle vrywillig daar is sal 'close-guarded' en 'restrained' tog nie nodig wees nie. Is Islam se paradys dan so 'n gevaarlike plek vir maagde, en waar kom hierdie maagde vandaan wat nie daar wil wees nie?

In Sura 56 word daar ook 'n verduideliking gegee van wat wag vir die Moslems wat genoeg ‘goed’ gedoen het om in die paradys te kom:

Daar wag, “tuine van verrukking” (v.17) “en suiwer, skoon metgeselle, soos verborge pêrels:” (v.22,23) “Voorwaar, Ons het vir hulle 'n nuwe skepping geskape, en tot maagde het ons hulle gemaak, beminlik, en van gelyke ouderdom.” (v. 35-37)

Daar is nog talle voorbeelde in die Quran, te veel om almal aan te haal. Die Hadis bevestig die Quran se uitsprake oor hierdie saak. Die Profeet sê van diegene wat aan Jihad deelgeneem het in Al-Hadis (Karim, 1998:23:44(Vol.2):358):

die Boodskapper van Allah het gesê: Daar is ses deugde (voordele) vir 'n martelaar (iemand wat sy lewe gee in oorlog vir Allah) by Allah. By die eerste vergieting van bloed word vir hom sy plek in die paradys aangewys, hy word beskerm teen die kastyding van die graf, hy word veilig gehou teen groot onheil, 'n kroon van eer sal op sy hoof geplaas word waarvan slegs een juweel beter is as die wêreld en alles wat daarin is, hy sal in die eg verbind word met twee en sewentig vrouens wat almal maagde is met groot donker oë.

In Al-Hadis (Karim, 1998:42:36(Vol. 4):175) belowe die Profeet wonderlike gerief en plesier vir diegene wat kwalifiseer:

Die laagste (in rang) van die bewoners van Paradys sal tagtig duisend bediendes hê, en twee en sewentig vrouens, 'n tent van pêrels, smaragte en juwele sal vir hom opgeslaan word.

Hoe sal 'n man egter regkom met so baie vrouens? Die Profeet antwoord hierdie vraag as volg in: Al-Hadis 42: 24 (Vol. 4 bl. 169):

die Heilige Profeet het gesê: Aan die gelowige (Moslem) sal buitengewone vermoë tot seksuele gemeenskap gegee word in die Paradys. Hy is daaroor uitgevra: ‘O Profeet van Allah, kan dit wees dat hy daartoe instaat is?’ Hy het geantwoord: ‘Hy sal die seksuele vermoë van een honderd mans gegee word.’

Daar is ietwat van 'n balansversteuring hier: 72 vrouens en die seksuele vermoë van 100 mans. Gaan 'n man nie op 'n stadium voel : ’het ek tog maar nog 28 vrouens ekstra gehad nie’?

Hierdie beloftes van genot wat vir ewig aanhou, is hoofsaaklik om Moslems aan te spoor tot Jihad. Watter man, wat hierdie dinge werklik glo, sal nie bereid wees om sy lewe te offer in Jihad hiervoor nie?