Toe God Abra(ha)m roep uit Ur, gee Hy aan hom die volgende belofte in Genesis 17:8:
“En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.”
In Genesis 48:4 herhaal God hierdie belofte:
“Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ’n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige besitting gee.”
Hierdie belofte van God aan Abraham van die land as 'n ewige besitting, is die belofte aan sy afstammelinge deur sy seun Isak by sy vrou Sara. Dit word bevestig deur Genesis 25:5, 6:
"En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke geee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland."
Die Quran stem eintlik hiermee saam as hy van die Israeliete en die heilige land sê, in Sura 5:20, 21:
"En toe Moses aan sy volk gesê het: O my volk, dink aan die guns van Allah en hoe hy profete onder julle verwek, en van julle konings gemaak het, en aan julle gegee het wat hy aan geen ander volk gegee het nie. O my volk, betree die heilige land wat Allah vir julle bestem het..."
Ten spyte van hierdie en heelwat ander erkennings in die Quran dat Israel die uitverkore volk van God is, leer Islam dat Israel verwerp is as volk van God en dat Islam nou die uitverkorenes van God (Allah) is. Die Quran leer dat die Israeliete as uitverkorenes deur “Allah ... oor hul ongeloof vervloek” is (Sura 2:88,89). Daarom glo hulle ook dat die Jode geen bestaansreg meer het nie. Die blote bestaan van die Joodse staat van Israel, bring die geloofwaardigheid van die Quran in gedrang, en daarom is dit vir Islam so ‘n dringende saak dat Israel as staat en die Jode van die aardbol moet verdwyn.
Hierdie haat teen Israel word aangevuur in die Quran, waar daar heelwat haatspraak teen die Jode voorkom. Sura 5:13 is 'n voorbeeld daarvan:
“Maar weens hul skending van die verbond het Ons (Allah) hulle vervloek en hulle harte verhard. Hulle ruk woorde uit verband en vergeet 'n deel van die vermaninge teen hulle. Op enkeles na sal julle hulle altyd verraderlik vind.”
Daar word beweer dat die Jode die Quran van God ontvang het, maar dat dit verdraai is en dat die Bybel 'n verdraaiing van die Quran is. Dit is natuurlik absoluut vergesog en totaal onwaar, aangesien die Quran, behalwe vir verdraaide uittreksels uit die geskiedenis van Israel, vanaf Abraham tot by Jesus, hoofsaaklik handel oor gevegte, veldslae en twiste waarby Mohammed en sy volgelinge betrokke was. Verder bestaan dit uit dreigemente van teëspoed en ellende wat nie-Moslems gaan tref en die genot wat Moslems wat vir die ‘Paradys’ gaan kwalifiseer, te beurt gaan val. Die grootste deel van wat in die Quran geskrywe is, het nog nie eers plaasgevind toe God sy openbaringe aan die geïnspireerde skrywers van die Bybel bekendgemaak het nie.
Dit is dus te verstane dat die sogenaamde Moslem-ekstremiste hulleself die reg veroorloof om as deel van hulle heilige oorlog, terroristiese dade teen die VSA te pleeg weens laasgenoemde se hulp aan Israel. Luister 'n mens na die uitsprake van die meer ‘gematigde’ Moslems dan word dit gou duidelik dat, hoe diplomaties en taktvol hulle dit ook al stel, hulle simpatie by die ekstremiste lê, en dat hulle ook Amerika se hulp aan Israel as die groot probleem beskou.
Israel moet uit die weg geruim word ten alle koste en dit is nie nuut nie. Mohammed het reeds die volgende oor hierdie saak gesê:
In Al-Hadis (Karim, 1998:39:35(Vol.4):25) sê Mohammed in verband met die laaste dae: “Voor die Uur aanbreek sal die Moslems die Jode beveg, en die Moslems sal hulle doodmaak, soveel so dat die Jode skuiling sal soek agter klippe en bome, en die klippe en die bome sal uitroep: ‘O Moslem! Hier is 'n Jood agter my, so kom en maak hom dood, behalwe vir die ‘garqad’ boom, want dit is die boom van die Jode.”
Hoewel Israel ‘n piepklein staatjie is met minder as 1% van die grondgebied wat sy Arabiese (Moslem) bure het, en ‘n Joodse bevolking wat nog kleiner is in verhouding met hulle Arabiese bure, moes hy sedert sy moderne ontstaan in 1948 die woede en aanslae van sy Arabiese (Moslem) bure verduur, en het hy dit tot dusver suksesvol gedoen. Die verleentheid wat Israel se sukses vir Islam is, vererger net die probleem.
Hoe waar is dit nie wat Weldon en Ankerberg (1991:8) geskryf het nie:
“Millions of Muslims are standing shoulder to shoulder against their perceived enemies – Israel and, more and more, America for its support of Israel. Even though most Muslims are not now militant, calls are increasingly heard throughout the Muslim world for Islamic unification and the waging of war against those it considers its enemies. Who can tell what the future will bring?”
En wat het die ‘toekoms’ toe nie alles gebring nie, veral in die lig van al die selfmoordbomme en ander terroristiese dade wêreldwyd, insluitende die vernietiging van die Wêreld Handel Sentrum in Amerika op 11 September 2001? Die vraag kan weer gevra word: ‘wat lê nog voor?'
