Wat is 'n Christen?

Daar is 'n verskeidenheid betekenisse wat aan die woord ‘Christen’ gekoppel word. Sommige mense beskou hulleself as Christene, en word ook deur andere as Christene beskou wanneer hulle name op die lidmate lys van 'n Christelike denominasie is, ongeag of hulle 'n persoonlike kennis van, en verhouding met die lewende Christus het, en ongeag hulle betrokkenheid en verdere verhouding met die denominasie (kerk). Ander mense word weer as Christene beskou omdat hulle sekere tradisionele Christelike gebruike soos Kersfees of Goeie Vrydag vier. Sommige mense dink dat as hulle 'n gebed gebid het, waarin hulle Jesus as persoonlike verlosser aangeneem het, hulle Christene is, ongeag die soort lewe wat hulle daarna lei. Daar is andere wat dink dat as hulle gereeld kerk toe gaan, nie te veel sondig nie, ordentlike lewens lei, en baie goeie dade doen (soos om te gee aan die kerk en minderbevoorregtes), sonder 'n persoonlike verhouding met Jesus, dan is hulle Christene.

Volgens die woordeboek is 'n ‘Christen’ iemand wat die Christelike godsdiens bely of volg. Dit kan egter ook iemand wees wat as sulks geklassifiseer word, en hierdie klassifikasie kan geskied volgens 'n verskeidenheid van maatstawwe, soos onder andere hierbo genoem. Dit is dus moontlik dat mense as Christene geklassifiseer of beskou kan word sonder dat hulle dit werklik is. 'n Persoon kan selfs sê (bely) dat hy 'n Christen is sonder om werklik self te weet wat die vereistes vir Christenskap is.

Volgens die Bybelse definisie van ‘Christen’, wat ons in Handelinge 11:26 kry, word dissipels (van Jesus) Christene genoem, aldus die OAV en verskeie Engelse vertalings. Die NAV noem hulle ‘gelowiges’, wat in die konteks dan Christen-gelowiges beteken. Dissipel beteken volgeling, of leerling van - (gewoonlik Jesus). 'n Christen is dus 'n dissipel, volgeling of leerling van Jesus.

'n Meer Bybelse definisie vir die woord ‘Christen’ sal dus wees: ‘'n Ware volgeling en leerling van Jesus, wat deur Hom as sulks erken en aanvaar word’. Die een wat gevolg word (Jesus) is dus die een wat die vereistes van dissipelskap bepaal. Jesus stel dit duidelik in Lukas 9:23:

As iemand agter My aan wil kom (My dissipel wil wees), moet hy homself verloën (sy eie belange nie meer bokant God stel nie) en sy kruis elke dag opneem (bereid wees om aan homself te sterf, soos wat Jesus self gedoen het toe Hy sy kruis opgeneem het) en My volg (My dissipel wees).” Sien onder andere ook Matthéus 16:24 en Markus 8:34.

'n Christen of dissipel van Jesus is dus iemand wat, op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus, totaal aan God oorgegee is, wat homself verloën en Christus volg, elke dag bereid is om aan homself te sterf (Lukas 9:23); wat dood is vir die wêreld en die sonde, maar lewe vir Christus (Romeine 6:2-14); sien vers 11: "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here."; wat as kind van God deur die Gees van God gelei word aldus Romeine 8:14: "Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God."; en in wie se hart die liefde van God uitgestort is volgens Romeine 5:5: "...en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is."

In hierdie proses van verlossing kry God al die eer, want dit is Sy werk. Selfs die vermoë om te glo en te kies is 'n geskenk van God; Sien Efesiërs 2:8, 9: "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie." Deur sy krag stel God ons in staat om hierdie dinge te doen en hierdie nuwe lewe te leef, sien Johannes 15:5: "Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie."

'n Christen is iemand wat in heiligheid (totale toewyding aan God) lewe en nie meer sonde doen nie; 1 Johannes 3:6: “Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.

Word 'n mens dus deur jou dade 'n Christen? Nee, deur geloof alleen. Dit is egter 'n regte, 'n ware geloof wat oorgaan tot dade. Die apostel Jakobus skryf in 2:20: “Maar wil jy weet o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?” sien ook vers 26. Maar hoe word 'n mens dan 'n Christen?