Islam
Islam is 'n godsdiens wat sy oorsprong het in die Arabiese Skiereiland (vandag Saudi Arabië) aan die begin van die sewende eeu na Christus. Die woord ‘Islam’ beteken, volgens Imam Baker (1981:xviii) in sy inleiding tot sy vertaling van die Quran in Afrikaans, "om vrede te sluit". In sy kommentaar tot die Hadis (later meer hieroor) sê Al-Haj Maulan a Fazlul Karim (1998: (Vol. 1): 128), 'n afgetrede regter: “Islam beteken letterlik vrede, of totale onderwerping (aan Allah)” en verder, “Islam is (i) vrede, en (ii) aanbidding van slegs een, Allah.” Islam beteken dus totale onderwerping aan Allah en dit word beskou as sinoniem met, of dieselfde as vrede. 'n Mens sou kon vra of dit dan beteken dat vrede net bestem is vir Moslems.
Daar is egter ander menings oor die oorspronklike betekenis van die woord ‘Islam’. Dr. M. Bravmann, (soos gekwoteer deur Morey 1992:36-37) 'n kenner van die Midde Ooste, het 'n ander verduideliking hiervoor. Hy sê: “[Islam was oorspronklik] 'n sekulêre (nie-godsdienstige) begrip, wat vir die primitiewe Arabier gedui het op 'n verhewe deug, trotsering of uitdaging van die dood, heroïsme; om in oorlog te sterf.” Dit blyk dus dat die betekenis van ‘onderwerping aan Allah’ eers later ontwikkel het.
Moslem
'n Aanhanger van die Islam geloof word 'n Moslem genoem. Dit beteken iemand wat hom onderwerp aan die Islamitiese geloof.
Koran – Quran
Die belangrikste heilige boek (Bybel) van Islam word genoem die Koran, ook gespel, Qur’an, Qur-an of Quran. Dit bestaan uit 114 hoofstukke. Die boek is in Arabies geskryf en sommige Moslems aanvaar nie enige ander vertalings nie, daarom word gewoonlik na vertalings verwys as ‘die betekenis van ...’ of ‘the meanings of ...’ (sien die bronnelys). In Engels en Arabies word die hoofstukke ‘Surah’ of ‘Sura’ genoem wat beteken ‘stap’ of ‘graad’. Die Quran is volgens Islam die finale openbaring van God. Dit word baie ernstig opgeneem en alle opdragte daarin is direk van Allah deur die Profeet Mohammed en moet gehoorsaam word. Moslems hanteer die Quran dan ook met die hoogste agting en baie respek, gewoonlik slegs met die regterhand in ooreenstemming met die Arabiese en Moslem tradisies van die gebruik van verskillende hande vir verskillende take. (Sien ook Mohammed en die Quran hieronder.)
Allah
Allah is die God van Islam en volgens Moslems die enigste ware God, en word as sulks deur hulle aanbid. Die woord Allah beteken nie God nie; dit is die naam van die God van Islam. Die naam Allah was reeds in die voor-Islamitiese tydperk bekend. Volgens Morey (1992:217) dui argeologiese opgrawings daarop dat Allah die naam van die maangod was wat as die hoofgod in die Ka'aba in Mekka aanbid was. Mekka is die heilige stad van Islam, waar alle Moslems minstens eenmaal in hulle lewe besoek moet aflê om te aanbid. Hierdie verpligte pelgrimsreis na Mekka word Hajj genoem. Sien hoofstuk 4:iv hieronder vir meer inligting in hierdie verband. Die feit dat die naam Allah in voor-Islamitiese tydperk reeds bekend was verduidelik volgens Morey waarom die Quran Allah nie volledig beskryf en definieer nie, en ook waarom Mohammed aangeneem het dat die heidense Arabiere Allah reeds geken het.
Mohammed
Mohammed is die grondlegger van Islam. Hy word deur Islam beskou as die laaste profeet en finale boodskapper van God (Allah). Mohammed maak in die Quran hierop aanspraak. Hy (Mohammed) verwys onder andere na homself as “geëerde Boodskapper” en in Engels: “honoured apostle” Sura 69:40. [Daar sal deurgaans verwys word na ‘Sura’, gevolg deur die hoofstuk en vers nommers, wanneer uit die Quran aangehaal word (byvoorbeeld Sura 7:157 of 51:52)]
Mohammed en die Quran
Die Quran is volgens Islam woordeliks deur Allah, deur tussenkoms van die engel Gabriël, aan Mohammed [571(570)-632 n.C. bronne verskil oor die jaar van sy geboorte] gegee.
In die Afrikaanse vertaling van die Quran, vertaal deur Imam M.A. Baker (1981), word Mohammed gespel as Muchammad, en Moslem(s) word gespel as Moesliem(s).
Mohammed ontvang sy eerste openbaring in 610 n.C. in die vorm van 'n visioen, terwyl hy in 'n verrukking van sinne (trance) was. Mohammed vrees aanvanklik vir sy lewe en is nie seker van die oorsprong van die visioen nie. Sy vrou, Khadija, vertroos hom en behandel hom vir skok, en nadat sy raad gevra het by haar neef, Waraqa-b-Naufal, verseker sy en die neef hom dat dit die aartsengel van God is, wat voorheen aan Moses verskyn het. Volgens tradisie wou Mohammed toe selfmoord pleeg, maar het die engel Gabriël toe aan hom verskyn en hom verseker dat hy die Apostel van Allah is. Oor die volgende 22 jaar, tot met sy dood in 632 n.C. het hy gereeld, op verskillende maniere, openbaringe ontvang (Karim, 1998(Vol. 4):354-359).
Die Quran bestaan uit hierdie visioene van Mohammed. Hy kon nie lees en skryf nie, en het dit gedikteer vir mense om hom, wat dit dan neergeskryf het. Eers na Mohammed se dood is die dele van die Quran, wat op verskillende voorwerpe onder andere perkament, blare en bene geskryf was, bymekaar gemaak in boekvorm om die Quran te vorm. Oor die samestelling, volledigheid en inhoud daarvan is daar selfs in Moslem geledere geen eenstemmigheid nie.
In die Quran is daar verskeie ontkennings dat Mohammed kranksinnig of besete was.
Sura 52:29: "Vermaan dan want deur die guns van die Here is u (Mohammed) nog 'n waarsêer, nog 'n kranksinnige." (Baker, 1981:389) (sien ook Sura 37:35-36; 44:14; 51:52; 68:2 & 51; 81:22).
Hierdie ontkennings beteken minstens dat Mohammed deur sommige van sy tydgenote as kranksinnig of besete beskou was. Dit het waarskynlik te doen gehad met die feit dat hy dikwels in verrukking van sinne was. Volgens Al-Hadis (Karim, 1998:22:79(Vol.4):360) het Aisha (Mohammed se een vrou) gesê:
"Ek het hom (Mohammed) gesien wanneer die openbarings op hom neergedaal het op 'n baie koue dag; toe dit hom verlaat was sy voorhoof stomend van sweet."
In (Karim, 1998:22:80(Vol.4):360) op dieselfde bladsy sê Obadah-b-Swamet:
"... wanneer 'n openbaring oor die Profeet gekom het was hy in ernstige beroering en het sy gesigsuitdrukking verander ... hy het dan sy kop geknik en so ook sy metgeselle. Wanneer die openbaring beëindig is het hy sy kop opgelig."
Die Hadis
Die ‘Hadis’ (Hadith) is, naas die Quran, die belangrikste geskrifte waarop Islam gegrond is. Die Hadis is versamelings, geskryf deur 'n verskeidenheid van mense wat na-aan Mohammed (die Profeet) geleef het, en dit bestaan uit aanhalings van wat hy sou gesê het, sowel as gewoontes en tradisies van hom.
Dit is so dat die Quran die belangrikste boek in Islam is, die Hadis kan egter nie geïgnoreer word nie. Daar is wel meningsverskil onder Moslems oor die waarde van die Hadis in die lewe van 'n Moslem. Niemand kan egter ontken dat dit ook baie gewig dra nie, want dit word deur Allah self in die Quran bepaal. Allah eis in die Quran, in Sura 3:31; 4:59; 8:20 & 46; 24:52; 47:33; 64:12: “... gehoorsaam Allah en gehoorsaam die Boodskapper (Mohammed)” Dit is dan klaarblyklik ook die rede waarom dit wat Mohammed gesê en gedoen het (opgeteken in die Hadis) ook verplig (sunnah wat nagevolg moet word) is vir die Moslem. Die opdrag kom direk van Allah af. Hy stel dit ook duidelik in Sura 4:80:
“Wie die Boodskapper (Mohammed) gehoorsaam, gehoorsaam ook Allah.”
In die Al-Hadis, an English Translation and Commentary of MISHKAT – UL – MASABIH uitgegee deur Islamic Book Service, New Delhi 1998, saamgestel deur Al-Haj Maulana Fazlul Karim, waarna reeds hier bo verwys is, sê die samesteller in sy inleiding, (Karim, 1998(Vol. 1):3):
“Die Quran sonder die Hadis bly inderdaad onverstaanbaar in baie gevalle in die alledaagse lewe van 'n man” en verder: “Dus, indien die Quran geglo word, is daar geen ander alternatief nie as om ook die Hadis (tradisies) van die Profeet (Mohammad) te glo nie.”
Hy sê ook op (Karim, 1998(Vol. 1):154):
“Die .. Quran ... en die Hadis van die Heilige Profeet sal die belangrikste boeke wees waardeur die lewe van 'n ware Moslem gerig word.”
Die belangrikheid van die Hadis vir die Moslem word ook geïllustreer in Karim se woorde in (1998(Vol. 3):122):
“Daarom is die nakoming van die reëls van die Quran en die Hadis verpligtend vir die behoud van die siel en vir sy vol gehoue vordering.”
Behalwe bogenoemde samestelling van die Hadis, waarna voortaan verwys sal word as Al-Hadis, is ook die Engelse vertaling deur Dr. Muhammad Mushin Khan van Sahih Al-Bukhari se samestelling van die Hadis gebruik. Dit is getiteld, The Translation of the Meanings of Sahih Al-Bukhari, uitgegee deur Khitab Bhavan, New Delhi, 1987. Na hierdie samestelling sal verwys word as Al-Bukhari, en aangetoon as (Khan, 1987: gevolg deur die nommer, volume nommer en bladsy nommer).
Vanuit die Hadis word die Sunnah of Sunna bepaal. Sunna is dit wat nagevolg moet word en beteken dus eintlik ook ‘wet’. Die letterlike betekenis van sunna is weg of pad, teenoor Shariah of Shariat wat beteken die godsdienstige wet van Islam. Die Sunna is ontwikkel uit wat Mohammed geleer en gesê het en ook uit sy gewoontes, soos opgeteken in die Hadis (Hadith). Sunna word deur Al-Bukhari (Khan, 1987(Vol 1):Lxxxi) as volg gedefinieer:
“Al die tradisies en gebruike van die Profeet (Mohammed) wat voorbeelde geword het vir die Moslems en deur hulle nagevolg moet word.”
Dit is dus die riglyn waarvolgens elke Moslem veronderstel is om te lewe, oftewel die pad of weg wat hulle moet volg. Wanneer daar dus uit die Hadis aangehaal word, kan dit verstaan word as 'n 'wet' vir elke Moslem wat hy veronderstel is om te gehoorsaam, of die weg wat hy moet volg.
Volgens hierdie belangrike geskrifte het die Profeet Mohammed, volgens Al-Hadis (Karim, 1998:1:59(Vol. 1):135) die volgende gesê: “'n Moslem is hy van wie se tong en hande ander Moslems veilig is.” Dink ‘n mens aan die oorlog tussen Iran en Irak enkele jare gelede, sowel as die woelinge tans in Arabiese (Moslem) lande, dan is dit duidelik dat hierdie stelling nie waar is nie. Moslems in Afghanistan (Noord teen Suid) veg steeds teen mekaar en maak mekaar dood. Dit is byna alledaags dat Moslems onder mekaar veg. Talle ander voorbeelde kan genoem word. Gestel egter dit is waar dat Moslems veilig is van die tong en hande van ander Moslems, wat moet dan uit hierdie stelling afgelei word? Is nie-Moslems dan nie veilig van 'n Moslem se hande en tong nie? As 'n Moslem in teenstelling met wat Mohammed gesê het, nie werklik veilig is nie, hoe veilig is 'n nie-Moslem dan? Veral in die lig van die volgende aanhaling uit die Hadis: die Profeet sê volgens Al-Hadis 1:73 (Vol. 1 bl. 144):
“'n Groep van my mense sal nooit ophou om te veg vir waarheid (Islam) nie, en sodoende dié oorwin wat dit teenstaan.”
Dit is hierdie soort uitsprake van Allah se boodskapper wat 'n mens bekommerd maak. As ‘n mens dit egter vergelyk met die Quran dan is daar groot ooreenstemming.
Die vyf beginsels (pilare) van Islam
Die Islam geloof berus op vyf beginsels wat ook bekend staan as Islam se vyf pilare van geloof. Hierdie beginsels is volgens Al-Bukhari (Khan, 1987(Vol.1):17) as volg:
- Om te bely dat niemand die reg het om aanbid te word nie behalwe Allah, en dat Mohammed Allah se boodskapper is.
- Om die vyf verpligte daaglikse gebede pligsgetrou en korrek te offer.
- Om die Zakaat te betaal. Dit is verpligte liefdadigheid.
- Om die Hajj (pelgrimsreis na Mekka) te onderneem.
- Om die vas gedurende die maand van Ramadan te onderhou.
Daar is spesifieke voorskrifte vir die nakoming en betekenis van elk van hierdie beginsels (pilare). Dit sal egter nie in hierdie boek bespreek word nie. Daar word volstaan met die opmerking dat dit van elke Moslem verwag word om die voorskrifte in verband daarmee getrou na te kom.
Die vraag wat beantwoord moet word is: Is Allah ‘n God van liefde? Daar sal dus vervolgens gekyk word na uitsprake van Allah oor liefde, volgens sy heilige boek, die Quran en ook volgens die Hadis. Hiervolgens sal dan bepaal kan word of hy 'n god van liefde is. Dit sal dan vergelyk word met uitsprake hieroor deur Jahweh, God van die Bybel. Dit behoort dan ook meer duidelikheid te bring oor die vraag of Allah en Jahweh dieselfde God is.
