Allah is so tevrede met die mense wat trou gesweer het aan Mohammed in Sura 48:18 dat hy aan hulle baie oorlogsbuit belowe in vers 20. Die Afrikaanse vertaling sê dat Allah aan hulle 'wins' belowe het, maar Al-Bukhari vertaal dit as volg in Engels: "Allah has promised you much booty which you will capture." Pickthall (1997:371) se Engelse vertaling stem ooreen hiermee terwyl Ali (2000:470) se Engelse vertaling dit ook 'gains acquire' maak in stede van 'booty capture'.
Hoewel dit in die geskiedenis eintlik algemene gebruik was dat oorwinnaars in 'n oorlog beslag gelê het op oorlogsbuit, en selfs ook die geval was in die Bybel, is Moslems van mening dat dit eintlik onwettig was, maar dat Allah 'n uitsondering gemaak het deur dit vir hulle wettig te maak. Mohammed verduidelik dit as volg in die Hadis.
Al-Hadis (Karim, 1998:23:142(Vol.2):407): “die Boodskapper van Allah het gesê: Buit (deur oorlog en plundering) was voor ons, vir niemand wettig nie. Dit was omdat Allah ons swakheid en hulpeloosheid gesien het, daarom het hy dit vir ons wettig gemaak.”
Al-Hadis (Karim, 1998:23:157(Vol.1):415): “die Profeet het gesê: Allah het aan my mense meerderwaardigheid (superiority) gegee oor al die nasies, en hy het dit wat ons buit wettig gemaak vir ons.”
Dit is duidelik ‘n verdere aansporing tot Jihad. Watter soort God verander sy wette sommer so links en regs om by omstandighede te pas? Anders as Allah wat
sy wette na willekeur kan verander en verskillende maatstawwe vir verskillende persone het kan die God van die Bybel se wet van die liefde nie verander nie, en God kan ook geen uitsonderings maak sonder om Sy regverdigheid in te boet nie. Daarom doen Hy dit ook nie. Efesiërs 6:9 sê:
“...by Hom (is) geen aanneming van die persoon nie.” (Ou Afrikaanse Vertaling) of: “...Hy trek niemand voor nie.” (Nuwe Afrikaanse Vertaling)
Allah het egter 'n ander stel reëls vir Moslems, en veral diegene wat vir hom veg. Mohammed self het blykbaar toestemming gehad om wet te te verander. Al-Bukhari (Khan, 1987(Vol.9):343) sê die volgende:
“Enigiets wat deur die Profeet verbied is, is wettiglik verbode tensy daar bewys is dat dit later gewettig is.”
Daar was voorskrifte hoe die buit verdeel moes word. Allah en Sy Boodskapper (Mohammed) kry een vyfde en die res kan die vegter hou. Dit word deur die Quran self voorgeskryf:
Sura 8:41: “En weet dat 'n vyfde van wat julle in die geveg buit, moet gaan aan Allah en die Boodskapper (Mohammed)”
Dit sal interessant wees om te weet hoe Moslems na Mohammed se dood hierdie opdrag van Allah in die Quran interpreteer en in die praktyk toepas.
Wanneer Islam die oorhand kry in 'n land, is almal veronderstel om Islam as geloof te aanvaar. Diegene wat dit nie doen nie en dit oorleef, word verplig om 'n spesiale soort belasting, genoem Jizya, te betaal. Dit het reeds ter sprake gekom toe Sura 9:29 in die vorige afdeling bespreek is, dit sê:
Sura 9:29: “Beveg hulle wat nie in Allah en aan die Laaste Dag glo nie, en nie verbied wat Allah en Sy Boodskapper verbied het nie, en nie die godsdiens van die Waarheid navolg nie – onder diegene aan die wie die Boek vroeër gegee is (Jode en Christene, wat die Bybel ontvang het) – totdat hulle die belasting ter erkentenis van voorrang betaal en hulle onderdanig is” Die laaste gedeelte in Engels lui as volg: “Until they pay the Jizya with willing submission."
Jizya is 'n vorm van belasting, soos wat die Afrikaanse vertaling dit dan ook noem, wat as 'n vergoeding betaalbaar is deur nie-Moslems [genoem zimmis ook gespel Dhimmi(s)] aan 'n Moslem owerheid. In sy voetnota by die woord Jizya, in sy vertaling van die Quran, sê Ali (1946:447):
“die grondbetekenis is vergoeding (compensation). ...dit is 'n hoofbelasting wat gevorder word van die wat nie Islam aanvaar nie.”
Dit is egter nie al nie. Daar is nog 'n vorm van voordeel vir Islam uit nie-Moslems wat in onderwerping aan Islam lewe. Dit word genoem Fai Property. Die
samesteller van die Al-Hadis (Karim, 1998(Vol.2):429) beskryf dit as volg:
“’Fai’ is besittings van ongelowiges (nie-Moslems) wat die Moslems se eiendom word sonder oorlog.”
Hy maak nie duidelik hoe dit bekom word nie, maar die volgende aanhaling uit die Hadis gee 'n goeie aanduiding:
Al-Hadis 23:200 (Vol. 2 bl.437): “Ogbal-b-A’mer het gerapporteer: Ek het gevra: O Boodskapper van Allah, ons het by mense gekom wat ons nie ontvang het nie, en ook nie hulle belasting (fai) noukeurig oorhandig het nie, en ons het ook niks van hulle afgevat nie. Die Profeet het toe gesê: As hulle dit vir julle nodig maak om dit met geweld af te neem, doen dit.”
Sal dit die lot wees van oorlewende nie-Moslems indien Islam suksesvol is in hulle strewe na wêreld oorheersing?
