Kan Jahweh, die God van die Bybel en Allah, die God van die Quran dieselfde God wees? Uit die feite wat tot hiertoe bespreek is, is dit duidelik dat die God van die Bybel en Allah totaal uiteenlopende morele attribute of eienskappe het, wat dit bo alle twyfel behoort te stel dat die twee wesens onmoontlik dieselfde persoon kan wees.

Die Moslems glo vas dat hulle die ware God aanbid en dat Hy ook die God van die Christene en Jode is. Die feit dat iemand glo dat hy die ware God aanbid, maak dit nie die ware God nie. Indien dit so gewerk het, sou dit beteken het dat alle godsdienste die ware God aanbid, soos wat baie mense deesdae beweer. Die Bybel maak egter nie daarvoor voorsiening nie.

Koning Dawid van die Bybel, wat deur Islam as 'n profeet erken word, het volgens 2 Samuel 7:22 die volgende gesê:

"Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie"

Die woord 'Here' in hierdie teks is in die oorspronklike taal Jahweh (of Jahwe), en so is daar baie tekste in die Bybel wat daarmee saamstem en sê dat Jahweh die enigste God is.

In die lig van die aanhalings en feite uit die heilige boeke van Islam en Christendom wat hier bespreek is, word dit aan die leser self oorgelaat om te besluit wie van die twee God is, en wie (of wat) die ander een is. Is dit die een wat liefde is, of is dit die een wat geweld en liefdeloosheid van sy volgelinge vereis? Die leser se besluit kan nie die waarheid verander nie, maar dit kan sy eie eindbestemming beïnvloed.

Om net 'n besluit te neem oor wie die ware God is, sal egter nie voldoende wees om die ewige lewe te beërf nie. Die regte besluit moet gevolg word deur bekering, sondebelydenis en totale oorgawe aan Jahweh, die ware God. Dit beteken wedergeboorte, wat 'n nuwe lewe in Christus is waar Hy regeer in die lewe van die nuwe gelowige. Dit is wat ware reddende geloof is.

Volgens die Bybel, in 1 Johannes 2:9-11 staan daar:

"Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het."

Iemand wat haat is dus in die duisternis en die duisternis verblind sy oë. So iemand sal nooit die waarheid kan herken nie. Daarom is dit so belangrik dat 'n mens sal ophou haat sodat jy in staat kan wees om te sien en die regte besluite te neem.

Ware aanbidding is totale oorgawe aan God in Christus. Om die ware God, Jahweh, te aanbid is die enigste manier om uit te kom by ware liefde, want God is liefde. As gevolg van hierdie liefde vind ons daar ook vervulling, harmonie en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Op geen ander manier kan hierdie dinge verkry word nie as deur aanbidding van die ware God. Wêreldse voorspoed en plesiere is tydelik en lei 'n mens eerder weg van 'n lewe van aanbidding as nader aan God. Daarom roep God die mens in die Bybel telkens op tot ware aanbidding. Die Psalm digter sê in Psalm 84:11:

"Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan van die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid."

Ware aanbidding is nie 'n doel in sigself nie, maar 'n middel tot die teenwoordigheid van God, Sy Koninkryk, waar daar liefde, vrede en harmonie heers.

Vir Allah is die aanbidding van homself die einddoel van die mensdom. Hy sê in die Quran in Sura 51:56:

"En ek het die djien (geeste) en die mense om geen ander rede geskape nie, as dat hulle My moet aanbid."

As dit die enigste rede vir die mens se bestaan is, dan kan 'n mens verstaan waarom enige versuim om daaraan te voldoen glad nie geduld kan word nie, en waarom die straf in Islam, op aarde sowel as in die hiernamaals, volgens die Quran, so hewig is.

Die regte antwoord is in die Bybel te vind. Dit word nie verander deur die feit dat sommige dit nie wil glo nie.