Hoekom is dit nodig om 'n Christen word?
Jahweh, die God van die Bybel (wat in hierdie boekie aan u voorgehou is), is 'n God van liefde wat nie wil hê dat enigiemand, insluitende u, verlore moet gaan nie; 1 Timoteus 2:3,4:
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Om 'n Christen te word is, volgens die Bybel, die enigste manier om gered te word. Gered beteken om met God versoen te word sodat ek in die ewige lewe saam met Hom sal wees in heerlikheid. Die Bybel sê hiervan:
Johannes. 6:47: "Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe." (OAV)
Handelinge. 16:31: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, ..." (OAV)
Efesiërs. 1:7: "In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, ..." (OAV)
Johannes. 3:16: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." (NAV)
Romeine 10:9-10: "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding." (OAV)
Geen goeie dade kan my red nie. Die Bybel sê hiervan:
Romeine 3:23: "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (OAV)
Prediker. 7:20: "Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie." (NAV)
1 Johannes. 1:8: "As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie." (NAV)
Jesaja. 53:6: "Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." (OAV)
Wat is sonde? Die Bybel sê hiervan:
1 Johannes. 3:4: "Elkeen wat sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid." (OAV)
Volgens die Bybel, soos reeds aangetoon, is die wet liefde. Alle liefdelose optrede is dus 'n oortreding van die wet, met ander woorde, sonde. 'n Mens moet God liefhê bo alles. Dit beteken dat enige optrede wat tot nadeel van God se koninkryk of eer is, liefdeloos en dus sonde is. Ons kan dus ook sê: liefde teenoor God is om nooit iets te doen wat tot sy nadeel of sy oneer is nie. Liefde teenoor my medemens is om nooit aan iemand iets te doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, en om altyd aan 'n ander te doen wat jy in dieselfde omstandighede aan jouself gedoen wil hê.
Hoekom moet ek die Bybel glo? Niemand kan verplig word om die Bybel te glo nie, maar as 'n mens die volgende feite in aanmerking neem sou 'n mens verwag dat elke intelligente persoon ten minste ernstige oorweging sal gee aan die inhoud van die Bybel en dit nader sal ondersoek:
- Oor 'n tydperk van 1 500 jaar het meer as 40 skrywers (waaronder vissermanne, herders, konings, dokters, ens.), uit drie kontinente (Asië, Afrika en Europa), in drie verskillende tale (Hebreeus, Aramees enGrieks), oor honderde potensieel kontroversiële sake, die openbaring van God aan die mens in 66 boeke opgeskryf, sonder om mekaar te weerspreek, en in perfekte harmonie.
- Deur die eeue was kritici se pogings om die geloofwaardigheid van die Bybel af te breek onsuksesvol. Baie bewerings oor die korrupsie en verdraaiing van die Bybel word gemaak, maar geen bewyse kan voorgelê word nie.
- Argeologiese opgrawings kon niks in die Bybel as vals bewys nie. Inteendeel het dit skeptici telkens verkeerd bewys en die Bybel as waar. Daar was byvoorbeeld aanvanklik geen argeologiese bewys vir die bestaan van die Hetiete as 'n volk in Kanaän nie. Skeptici het dit aangegryp as sou dit bewys wees dat die Bybel onbetroubaar is. Tot hulle ontsteltenis het argeologiese bewyse egter begin instroom en is daar tans in Ankara, Turkye, 'n hele museum wat uitsluitlik gewy is aan die Hetiete. Dit is maar een van talle voorbeelde. As gevolg van die betroubaarheid van die argeologiese rekord van die Bybel word die Bybel vandag deur sommige argeoloë gebruik om antieke stede op te spoor.
- Die profetiese rekord van die Bybel is onberispelik. 'n Groot hoeveelheid profesieë oor nasies en mense is in die Bybel gemaak, en alles wat reeds vervul moes word is presies so vervul, insluitende al die profesieë oor die eerste koms van Jesus. Daarom is dit seker dat alle profesieë wat volgens die Bybel nog in vervulling moet gaan, presies so vervul sal word.
- Die Bybel het miljoene mense in kontak gebring met die lewende God wat hulle lewens, vir ewig, onherroeplik verander het. Hulle ervaar die blydskap en vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, selfs in die haglikste omstandighede en te midde van ernstige vervolging.
Bron: (Hunt, 1996 & McDowel, 1979)
