Hoe om 'n Christen te word

In Handelinge 16:30 vra die tronkbewaarder aan Paul us en Silas: “30Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.” Redding geskied slegs deur só in Jesus Christus te glo, dat jy totaal aan Hom oorgee, dit wil sê, 'n dissipel van Hom, of 'n Christen word. Dit word ook genoem weergeboorte, want dit is 'n nuwe geestelike lewe wat begin waar jy nie meer vir jouself leef nie maar vir God. Jy hoef ook nie meer sekere rituele na te kom nie want Hy plaas die begeerte om tot sy eer te leef in jou hart.

Jy neem die besluit en God voorsien die krag vir die uitvoering daarvan deur Sy Heilige Gees. Onthou: jy kan slegs die besluit neem omdat Hy in Sy groot genade vir elke mens die vermoë gegee het om 'n besluit te kan neem.

Ten einde in staat te wees om hierdie besluit te kan neem het elke mens 'n sekere basiese kennis nodig van die Evangelie (goeie nuus) van Jesus. In hierdie boekie en veral in Aanhangsel A, is gepoog om genoeg inligting te gee sodat elke persoon voldoende rede het om 'n besluit te neem.

Wanneer 'n mens besef dat jy 'n verlore sondaar is en dat jou goeie dade jou nie kan red nie, maar dat Jesus vir jou die volle prys betaal het, vir jou versoening met God, en vir jou verlossing, is 'n diepe berou oor jou sonde onvermydelik. Dit is egter nie genoeg nie; 'n oorgawe is nodig. Johannes 1:12 sê:

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.

Jy moet dus 'n besluit neem en jou besluit in gebed aan God bekend maak. Gebed is gesprek met die lewende God. Hy wil graag hê dat ons in gebed na Hom toe moet kom. Jakobus 4:8:

Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.

Dit is goed om voor God te kniel in gebed, want dit dui op respek en eerbied, maar dit is nie verpligtend nie. Hy ken die gesindheid van ons harte en is nie afhanklik van ons houdings om te weet of ons Hom eer en respekteer nie. Dit is ook nie nodig om in 'n sekere rigting te kniel nie, want God is alomteenwoordig en alwetend. Hy weet wanneer jy kniel met die bedoeling om voor Hom te kniel. Gebed is ook nie 'n vasgestelde rympie wat jy moet opsê nie. Dit is om eerlik met God te praat oor die dinge wat op jou hart is. Dit mag wees dat die Heilige Gees jou bewus maak van dinge wat jy graag vir God wil sê. Doen dit met suiwer motiewe en tot eer van God. Om 'n Christen te word moet jou gebed egter ook die volgende sake bevat:

  1. Bely aan God jou sondes. Hy sal al jou sondes vergewe. Jy mag dalkvoel dat jou sonde te groot is en dat God dit nie kan vergewe nie. Hy sê egter in sy Woord dat hy al ons sondes vergewe en nooit weerdaaraan dink nie (Jesaja 43:25). Hy sê ook deur die profeet Jesaja in Jesaja 1:18: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
  2. Neem sy geskenk van verlossing deur Jesus aan en dank Hom dat Jesus die prys vir hierdie sondes betaal het deur Sy kruisdood, en dat jy as gevolg daarvan gered is en met God versoen is. Dit word aanvaar soos wat mens enige ander geskenk sou aanvaar, want dit is 'n geskenk aan jou uit God se hand. Efesiërs 2:8, 9: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is 'n gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
  3. Gee jouself aan Hom oor. Sê vir Hom dat jy van nou af nie meer vir jouself lewe nie maar vir Hom, dat jy nie meer jou eie belange eerste stel nie, maar dat Hy nou die eerste plek in jou lewe inneem.
  4. Dank Hom dat Hy vir jou die geleentheid gegee het en deur Sy Gees in staat stel om dit te doen.

As jy Hom eerste stel dan vervul jy die wet van liefde, want dan het jy Hom liewer as alles insluitende jouself. As jy bereid is om jouself te verloën dan sterf jy aan jouself en sal jy nie jou naaste te na kom nie, en dan sal jy aan hom doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Daarom is dit ook nodig om restitusie te doen sover moontlik. Gaan stel reg waar mense deur jou verkeerde dade te nagekom is. Indien werklike vergoeding nie moontlik is nie, vra ten minste verskoning as erkenning, en onderneem om te vergoed sodra dit moontlik is. Jy moet ook almal vergewe wat jou benadeel het. Jesus sê in Mattheus 6:15:

Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Dit mag wees dat daar sekere dinge in verband met 'n oorgawe aan God is waaroor jy onseker is ten spyte van jou behoefte om 'n oorgawe aan God te maak. Doen dan baie moeite om so vinnig moontlik al jou vrae beantwoord te kry. Soek na 'n Christen wat erns maak met God en die Bybel. Dit mag moeilik wees, maar vertrou die Here om jou deur sy Heilige Gees na so 'n persoon te lei. Kry 'n Bybel en lees dit biddend. Begin by die Nuwe Testament, verkieslik die Evangelie van Johannes. Dit sal egter goed wees om leiding te kry van 'n volwasse Christen. Die enigste manier om die ware God te leer ken is om die Bybel biddend te lees, want dit is Sy openbaring aan die mens.

Wat nou?

'n Nuwe Christen moet groei in sy kennis van God en in die proses van heiligmaking. Daar is reeds aangetoon dat 'n Christen nie maar kan voortgaan met sy ou sondige lewe van voorheen nie. Baie sogenaamde ‘Christene’, wat in sonde lewe, en wat leer dat mense nie sonder sonde kan lewe nie, het deur hulle optrede Moslems van Christenskap weerhou, en is die oorsaak van struikeling vir baie mense. Die Bybel sê van hierdie mense in die Nuwe Vertaling:

Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak (struikelblokke)! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit (die struikelblokke) kom.” (Matteus 18:7; sien ook Lukas 17:1)

Dit is noodsaaklik dat elke nuwe Christen die ware God beter leer ken. So sal hy/sy leer hoe om in oorgawe te lewe, onder leiding van die Heilige Gees. Dit
is die enigste manier tot 'n heilige (toegewyde en sondelose) lewe, want sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie (Hebreërs 12:14). 'n Christen groei deur die Bybel biddend en soekend te lees, en onderrig te ontvang in die waarhede van die Woord (die Bybel) in 'n gemeenskap van toegewyde Christene.

Die God van die Bybel verwag die volgende van Christene, in Jesus se eie woorde: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (Mattheus 5:48) in die woorde van die apostel Petrus: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig want Ek is heilig.” Hierdie gedeelte is in 1 Petrus 1:15-16 en dit verwys na wat geskryf staan in Levitikus 11:44,45.

Die mense (baie Christene) sê ons kan nie so lewe nie en hulle is reg, want uit eie vermoë kan ons nie volkome heilig wees nie. Die Here beloof ons egter in Sy Woord dat Hy ons deur Sy Heilige Gees sal toerus met krag om dit uit te lewe, indien ons wil en ons Hom glo en vertrou daarvoor. Romeine 13:14 (OAV):

Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

In Galasiërs 2:19b-20 (NAV) leer ons van die apostel Paulus:

...ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.

In 1 Thessalonicense 5:23 wens Paulus hulle die volgende toe:

En mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus.

Hy gee dan vir ons die versekering in vers 24:

Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Dit is nie nodig om iemand te probeer oortuig dat 'n Christen 'n getuie vir Christus moet wees nie. Vir iemand wat totaal aan Hom oorgegee is, soos hierbo uiteengesit, is dit onmoontlik om nie 'n getuie vir Hom te wees nie:

maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees...“ (Handelinge 1:8)

Dit geld ook vir gebed, want in gebed nader jy tot God en praat jy met Hom, en as jy Hom so liefhet dat jy jouself volkome aan Hom oorgee, is dit onvermydelik dat jy Hom soveel as moontlik in gebed sal opsoek.

Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Korinthiërs 5:20b)